Dapper stappers stap vir gestremde kinders

Dapper stappers het Saterdag se yskoue wind- en reënweer ter ondersteuning van die Daniel and Friends-fonds se jaarlikse Nappy Run ondersteun.


Dapper stappers het Saterdag se yskoue wind- en reënweer ter ondersteuning van die Daniel and Friends-fonds se jaarlikse Nappy Run ondersteun.

Dié inisiatief bevorder die nie-winsgewende organisasie se doelwit om doeke aan kinders met gestremdhede te verskaf.

Die organisasie is amper tien jaar gelede tot stand gebring om ’n platform te skep vir families en kinders met spesiale behoeftes, en ondersteun tans 200 kinders in die Wes-Kaap.

Stappers, en ’n paar drawwers, het net ná 08:00 in die pad geval om die 5 km-roete op D’Aria-wynlandgoed te voltooi.

Om in te skryf, moes deelnemers ’n pak doeke vir volwassenes skenk.

Vanjaar het ’n groep mediese en ander personeellede van Mediclinic Durbanville ook deelgeneem, terwyl die hospitaal self doeke vir volwassenes ter waarde van R10 000 geskenk het.

“As ’n hospitaal wat ook kinders met spesiale behoeftes behandel, is ons bewus van die inisiatief en die werk wat die fonds doen. Ons hoop om met ons bydrae ’n verskil te kan maak, en ook sodoende betrokke te kan wees by gemeenskapsinisiatiewe,” sê Johan Stadler, hospitaal- bestuurder by Mediclinic Durbanville.

Ook fisioterapeute van Aucamp & Wilsdorf by Mediclinic Cape Gate het hulle vanjaar by die inisiatief geskaar.

Annegret Wilsdorf sê die praktyk is sedert 2014 by die fonds betrokke om kinders met neurofisioterapie by te staan.

Groot behoefte

Volgens Lianie le Roux, ’n direkteur by die Daniel and Friends-fonds, is daar ’n groot behoefte aan doeke vir ouer gestremde kinders.

“Gestremde kinders raak ouer en die kinderdoeke raak te klein. Dar moet dus oorgeskakel word na doeke vir volwassenes, wat baie duur is en nie deur siekefondse gedek word nie.

“Sommige families het meer as een gestremde kind en die finansiële impak op die gesinne is enorm.

“Met die jaarlikse inisiatief wil ons hierdie las verminder,” sê sy.

Na die afloop van die pretstap het Le Roux die rolspelers en deelnemers vir hul betrokkenheid bedank.

“As ons die gemeenskap kan betrek om net een gestremde kind te kan help, dan weet ons ons kinders het nie verniet gely nie,” sê Le Roux, wat haar seuntjie Daniel, na wie die fonds genoem is, in 2013 op die ouderdom van drie aan Leigh se siekte verloor het.

Sy en haar mededirekteur, Kate Laurie, wat haar twee dogters Marielé en Liza weens die seldsame siekte Aicardi-Gautières-sindroom verloor het, het die fonds in 2014 met die ondersteuning van hul pediater, prof. Pieter Fourie gestig.

Die paramedikus Michelle Phillips het later by hulle as direkteur aangesluit.

Saam streef hulle daarna om ondersteuning te bied aan ander gesinne wat na siek of gestremde kinders omsien.

You need to be Logged In to leave a comment.