Die dansmaats Ravoldo Isaacs en Aakifah Parker spog met hul toekennings.


Die dansskool van Melvin Wiener in Bonteheuwel het die afgelope naweek sy staal in ’n danskompetisie in Saldanha gewys en in verskeie kategorieë koning gekraai.

Wiener, eienaar van die dansklub, sê hy is baie trots op wat die klub vermag het ten spyte van verskeie uitdagings.

“Dans is ’n baie duur sport en nie al die jong dansers se ouers kan hulle altyd bystaan nie.

“Hoewel die klubfooie minimaal is, sukkel baie om dit by te bring. Dis hoekom die naweek se sukses so belangrik was om te wys dat ons kan uitblink, al is daar ook baie uitdagings,” sê hy.

Die skool, wat reeds in 1982 gestig is, bestaan uit 25 dansers tussen 5 en 23 jaar.

“Die toewyding van al die dansers hou hierdie klub al die jare aan die gang. Ons leuse is ‘one team, one dream’ en dit is hoekom ons so suksesvol is, want ons werk almal saam. Die bewyse lê daarin dat ons in Saldanha in tien kategorieë geseëvier het,” sê hy.

Ravoldo Isaacs, ’n danser by die klub en sy dansmaat, Aakifah Parker, was aan die voorpunt van die klub se sukses en het vier goue trofeë verower.

“As 17-jarige is dit baie moeilik om gefokus te bly, want daar is baie groepsdruk en ’n mens word deur bendes en dwelms gekonfronteer. Ek kry ook baie lelike boodskappe omdat ek dans, maar dit kry my nie onder nie. Al wat ek weet is dat harde werk beloon word,” sê hy.

You need to be Logged In to leave a comment.