Danksy tegnologie sien man (68) van Goodwood uit na oud word

Danksy die nuutste mediese tegnologie kan ’n senior burger wat onlangs vir prostaat-kanker behandel is, uitsien na die goue jare wat nog voorlê. Sy boodskap aan ander mans is: “Laat julle toets.”.


Danksy die nuutste mediese tegnologie kan ’n senior burger wat onlangs vir prostaat-kanker behandel is, uitsien na die goue jare wat nog voorlê. Sy boodskap aan ander mans is: “Laat julle toets.”

Dit is die kreet van William Haywood (68), ’n inwoner van Goodwood, wat te danke aan die dokters en mediese personeel by die Tygerberg-hospitaal in Parow en hul splinternuwe Linac-masjien, oftewel die “Varian TrueBeam linear accelerator”, weer ’n huppel in sy stap ontwikkel het. Die Linac-bestralingsterapiemasjien is daarop gemik om die uitkoms vir kanker-pasiënte by die hospitaal te verbeter.

William Haywood (68) is met die Linac-masjien vir prostaatkanker behandel.FOTO: Richard Roberts

Die masjien, van nagenoeg R40 miljoen, is verlede Dinsdag 14 November by die hospitaal se X-blok bekendgestel.

Die Tygerberg-hospitaal se afdeling vir bestraling-onkologie gebruik die masjien sedert Mei om veilige en doeltreffende bestralingsterapie aan nagenoeg 81 pasiënte, wat behandeling vir onder meer bors-, prostaat-, kop-, nek- en neurologiese-kankers benodig, te lewer.

Die masjien vervaardig hoë-energie-deeltjies of golwe in die vorm van strale wat die beskadigde kankerselle vernietig, lui ’n verklaring deur die gesondheidsdepartement. Die strale fokus op ’n sekere deel van die pasiënt se liggaam waar die kankerselle voorkom. Dit verklein die gewas, of verhoed dat die gewas terugkeer nadat dit in ’n operasie verwyder is.

Tegnologie verwelkom

Dr. Henriëtte Burger, hoof: bestraling-onkologie by die fakulteit van medisyne en gesondheidswetenskap by die Universiteit Stellenbosch en Tygerberg-hospitaal, het die eerste lopies in haar openingstoespraak as ’n sukses beskryf.

“Ons is bevoorreg dat die masjien in Augustus hier geïnstalleer is, en tot dusver was dit ’n suksesvolle lopie. Ek moet byvoeg, hierdie soort belegging in tegnologie en infrastruktuur gee ons as klinici hoop. Dit motiveer ons om ’n uitnemende diens te lewer,” het Burger aan gaste by die geleentheid gesê.

Daar was ook ’n geleentheid aan Haywood gegun om oor dié masjien se vermoëns te getuig.

Ervaring

Haywood het die hospitaal, dokters en mediese personeel bedank. Hy sê dit was vir hom ’n eer om die operasie te ondergaan.

“Ek het gehoor van mense wat weet hulle het kanker, maar nie kom om behandel te word nie, dan sterf hulle. Toe ek hoor dat ek probleme met my prostaat het, het ek my laat toets. Mans is te trots om hulle te laat toets, of om daaroor te praat, en dit is die grootste probleem waarmee ons sit,” sê hy.

Haywood is ’n pylgooier en sê hy was kort ná sy operasie weer op sy plek.

Die fisioterapie wat hy ontvang het, het ook die pad na genesing bespoedig. Hy het ook die behulpsame personeel wat hom behandel het, bedank. “ ’n Mens kan net goed praat van hulle. Hulle laat jou tuis voel en bring ’n kalmte oor jou.”

Hy sê die masjien is fantasties. “Die tyd is so kort, as jy jou kom kry is dit verby. Die masjien is werklik fantasties en ek kan net goed praat daarvan, en die mense aanmoedig om dit (die behandeling) te ondergaan.”

Hy het beklemtoon dat die ervaring ’n eer was. “Ek voel baie beter, ek was wel moeg ná die bestraling, maar daar was geen nagevolge of simptome nie. Ek het geen newe-effekte gehad ná die behandeling nie,” sê Haywood, wat deesdae ook weer tuinbou.

Hy voeg by: “Ek kan vir die mense wat die masjien ontwerp het alle eer gee en aan ons gesondheidsdepartement.”

’n Enkel-sessie met die masjien neem tussen 15 en 30 minute, en die meeste pasiënte kan die behandelingskursus as ’n buite-pasiënt voltooi.

Haywood sê daar was altyd ’n slegte beeld rondom Tygerberg-hospitaal, maar dat dié beeld nie meer dieselfde is nie.

Burger het ná afloop van sy toespraak gesê mense soos Haywood speel ’n belangrike rol in die samelewing deurdat hulle, namens die hospitaal, ander daar buite aanmoedig om hulle ook te laat toets en behandeling te ontvang.

Dr. Nomafrench Mbombo (middel), LUR vir gesondheid

Dr. Nomafrench Mbombo (middel), LUR vir gesondheid, knip die lint by die eenheid in X-blok by die Tygerberg-hospitaal waar die Linac-masjien gehuisves word.FOTO: Richard Roberts

Pasiënt geprys

Haywood se getuienis is ook deur dr. Keith Cloete, provinsiale hoof van gesondheid, geprys.

Cloete het ook ’n familielid in 1992 aan prostaat-kanker aan die dood verloor. Die een ding wat vir hom destyds uitgestaan het, is die sorg en behandeling wat sy familie ontvang het, en dis vir hom wonderlik om te hoor dat Haywood ook dié soort sorg by Tygerberg-hospitaal ontvang het, sê hy.

“Dit gaan nie net oor die behandeling nie, maar ook oor die sorg. Ek salueer jou dat jy so uitgesproke is oor jou gesondheid, veral omdat jy ander mans ook aanmoedig,” het Cloete aan Haywood by die bekendstelling gesê.

Die bekendstelling is gevolg deur ’n toer van die teater waar die Linac-masjien gehuisves en gebruik word.

Hier het Cloete, sowel as dr. Nomafrench Mbombo, LUR vir gesondheid, die media te woord gestaan. Hulle is vergesel deur personeellede van die Tygerberg-hospitaal.

Volgens Mbombo is daar slegs drie van die soort masjinerie in die Wes-Kaap, waarvan twee in staatsbesit en een in privaatbesit is. Sy sê die masjien stel mense wat nie private sorg kan bekostig nie in staat om behandeling vir kanker te ontvang. “Hierdeur oorbrug ons die gaping deurdat ons gehaltediens aan die algemene publiek kan voorsien. Jy hoef nie Amerika of Singapoer toe te gaan om dié soort behandeling te kry nie,” sê Mbombo.

Sy sê navorsing toon dat tegnologie die gaping in die samelewing help oorbrug.

Tot en met 13 November het die hospitaal 81 nuwe kanker-pasiënte met die masjien behandel, en nagenoeg 1 329 daaglikse behandelings uitgevoer.

You need to be Logged In to leave a comment.