Grantham van Reenen is onderweg skool toe doodgesteek.


Hoewel die polisieminister Maandag afgekondig het dat die moordsyfer in die land afgeneem het, vloei die bloed vrylik in die Kaap se strate.

Senzo Mchunu het aan die media gesê in die drie maande van 1 Julie tot einde September het die moordsyfer met 5,8% gedaal – 400 minder moorde as in die voorafgaande drie maande. Steeds is 6545 moorde gepleeg.

Onder die tien stasies waar die meeste moorde aangemeld is, is vyf in die Wes-Kaap geleë.

Op die lys vir kontakmisdade beklee Mfuleni- en Delft-polisiestasies die eerste en tweede plekke. Vir moorde is Delft en Mfuleni onderskeidelik vierde en sesde.

Die goeie nuus is dat Delft (15%) en Mfuleni (19,4) dalings toon. Hierdie dalings is ’n skrale troos vir die ouers van ’n 14-jarige seun van Elsiesrivier wat onlangs onderweg skool toe in Ravensmead doodgeskiet is.

Grantham Jahmiel van Reenen was ’n graad 8-leerder aan die Hoërskool Ravensmead toe hy afgemaai is. Nog twee leerders, onderskeidelik 15 en 17 jaar oud, is tydens die skietery gewond.

Intussen het JP Smith, die Stad Kaapstad se burgemeesterskomiteelid vir gemeenskapsveiligheid, Van Reenen se ouers in Elsiesrivier besoek en ’n beloning van R100 000 uitgeloof vir inligting wat tot die inhegtenisneming van Van Reenen se moordenaar kan lei.

Smith sê in ’n verklaring dat Van Reenen nie aan bendebedrywighede deelgeneem het nie en ’n sorgvrye jongman was.

“Hy het pas hoërskool begin en het groot ambisies gehad en sy hele lewe het nog voor hom gelê. In ’n oogwink is sy lewe van hom weggeneem.

“Hy is nie in die spervuur gewond nie, maar was ’n doelbewuste teiken. Ons het die familie besoek en ek is baie hartseer. Dit kan nie toegelaat word dat ons gemeenskap só ontaard nie. Die polisie se hulpbronne is reeds op breekpunt weens hul daaglikse oorlog teen bendes, dus maak die Stad sy eie interne ondersoekhulpbronne beskikbaar om die moordenaars vas te trek,” sê Smith.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article