Die voorkant van die gebou in Parow, wat op Maandag 19 Augustus deur ’n brand verwoes is. FOTO’s: Richard Roberts


Inwoners van ’n informele woonstelgebou in Parow is sonder heenkome nadat ’n groot gedeelte van die gebou op die hoek van Tallent- en Voortrekkerweg in Parow verlede week deur vlamme vernietig is.

Een slagoffer, ’n vyfjarige meisie, is in die brand oorlede.

Die brand het Maandag 19 Augustus om 17:00 uitgebreek en is ’n uur later geblus.

Die tweeverdiepinggebou was glo eers kantore, maar is oor die jare in informele woonstelle omskep. Slegs die boonste verdieping is deur die brand geraak.

Een van die inwoners, wat anoniem wil bly, het vir TygerBurger buitekant die gebou gesê dat daar van afskortingsmure gebruik gemaak is om die “woonstelle” te skep. Dit is dalk ook wat tot die vinnige verspreiding van die brand kon gelei het, sê sy.

Die inwoner, wat oorspronklik van Prins Albert in die Karoo afkomstig is, haar man en die egpaar se tweejarige seun woon al ’n jaar lank in die gebou.

Sy het aan die koerant verduidelik dat die oorspronklike bedrading van die ou kantore steeds in plek is.

KYK | Seun (5) dood in vlammehel wat gebou in Parow verswelg

“Ons het rook geruik en dit by die drade sien uitkom,” het sy gesê.

Sy beweer dat die brand nie deur ’n gasstoof veroorsaak is nie, maar eerder ’n elektriese kortsluiting.

Die vrou het aan TygerBurger bevestig dat ’n meisie dood is. Die kind se ma was glo in George in die Suid-Kaap, en haar pa by sy werk. ’n Oppasser het glo na die kind gekyk.

Volgens die vrou is altesame 26 “woonstelle” vernietig. Sy sê die inwoners van die gebou is gemeng, en dat hulle van verskillende Afrika-lande, sowel as Suid-Afrika, afkomstig is.

“Baie van die mense het geld en alles in die brand verloor.”

Die gesinne wat deur die brand geraak is, word tans deur ’n kerk oorkant die pad gehuisves. Die vrou sê sy weet nie wat sy en haar man nou gaan doen nie.

Die welsynorganisasie Gift of the Givers was Maandagaand op die toneel.

’n Groot gedeelte van die gebou se dak is beskadig en verlede Woensdag – twee dae ná die voorval – het die reuk van rook nog in die lug gehang.

Ondersoek

Die koerant het die Stad Kaapstad se brand- en reddingsdiens genader om te probeer vasstel wat die moontlike oorsaak van die brand was.

“Wat die oorsaak van die brand betref, moet julle jul navrae verwys na die polisie wat die voorval ondersoek,” het Jermaine Carelse, woordvoerder, gesê.

Lt.kol. Malcolm Pojie, Wes-Kaapse polisiewoordvoerder, sê die omstandighede rondom die moontlike oorsaak van die brand vorm deel van hul voortdurende ondersoek.

Hy het bevestig dat die lyk van ’n vyfjarige meisie, wat weens die aard van haar beserings omgekom het, ontdek is.

“As gevolg hiervan is ’n geregtelike doodsondersoek van stapel gestuur,” sê Pojie.

Die Stad Kaapstad se eenheid vir probleemgeboue het verlede week bevestig die betrokke gebou is nie op hul lys is van probleemgeboue nie.

“Die eenheid het ook nog geen klagtes oor die gebou ontvang nie.

“Vir ’n gebou om as ’n probleemgebou gelys te word, moet ’n deeglike proses gevolg word, soos bepaal word deur die Stad se probleem-gebou munisipale ordonnansie,” sê Wayne Dyason, woordvoerder van die Stad se wetstoepassingseenheid.

Meld probleemgeboue by 021 480 7700 vanaf ’n selfoon of 107 vanaf ’n landlyn aan.

You need to be Logged In to leave a comment.