Die Durbanville-polisie het verlede Donderdag vroegoggend ’n
daggakwekery by ’n huis in Vierlanden in Durbanville blootgelê tydens ’n
klopjag.
Volgens kapt. Marchell Rhode, woordvoerder van die
Durbanville-polisie, het lede van die misdaadvoorkomingseenheid en sigbare
polisiëringseenheid omstreeks 07:00 by die huis te Obolweg 10 toegeslaan nadat
inligting deur Crime Stop ontvang is dat dagga op die perseel gekweek en gehou
word.
’n Man (28) is in hegtenis geneem vir die kweek en besit van
dagga.
Rhode het gesê ’n daggakwekery met ongeveer vier
daggaplantjies is in ’n houthuisie in die agterplaas van die huis gevind. Los
dagga is ook in ’n houer gevind.
In die huis is drie sakke met altesame sowat 400g hoëgehalte
dagga in ’n slaapkamer gevind.