Daar lê krag in ’n doelgerigte studiehoek

Om te studeer of tuiswerk te doen baat daarby as ’n leerder se studiehoekie knap ingerig is, met netjiese versierings en skryfbehoeftes. Twee kenners wat ’n toegewyde studiehoek hoog aanbeveel gee raad.


Om te studeer of tuiswerk te doen baat daarby as ’n leerder se studiehoekie knap ingerig is, met netjiese versierings en skryfbehoeftes. Twee kenners wat ’n toegewyde studiehoek hoog aanbeveel gee raad.

Studiehoekie-sielkunde

Anuska Rabe-Steynberg, ’n opvoedkundige sielkundige met ’n privaatpraktyk in Brackenfell, meen mense assosieer sekere omgewings en kontekste met sekere gedragsuitkomste en geestestoestande.

“As ’n kind ’n toegewyde studiehoekie het, dien die studiehoekie as die leidraad vir die kind se brein dat dit nou tyd is om te konsentreer en dat leer nou gaan plaasvind. Hierdie gekondisioneerde assosiasie kan konsentrasie en leerprestasie verbeter,” verduidelik Rabe-Steynberg.

Dus dien so ’n ruimte as die skeiding tussen werk en speel.

“Die fisiese skeiding wat so ’n ruimte bied, help kinders om die lyn te trek tussen wanneer ek moet leer en wanneer ek kan speel, wat dan ’n gesonde werk-lewe-balans op die langtermyn kweek.”

’n Psigiater wat met skoolgaande kinders tot graad 12 en volwassenes werk, dr. Renata Schoeman, het ’n spesifieke belangstelling in kognisie, oftewel enigiets wat aandag, konsentrasie en geheue beïnvloed.

Sy stem saam met Rabie-Steynberg en gee twee redes waarom ’n doelgerigte ruimte vir studie belangrik is:“Eerstens, dit gee jou brein ’n duidelike boodskap dat jy met hierdie spesifieke taak besig is. Jy wil ’n spesifieke ruimte hê waar jy weet: Hierdie is die plek en die tyd om te swot. So berei jy jou brein voor om vir huis- of leerwerk gereed te wees.”

Tweedens, meen Schoeman, “sal ’n gemaklike, oop en vrolike ruimte dit makliker maak om te fokus, eerder as wanneer ’n warboel jou aandagafleibaar maak”.

Verskeie voordele

Om ’n toegewyde studeerruimte te hê, kan leerders help om:

  • Afleidings uit die omgewing te minimaliseer
  • Produktiwiteit te bevorder
  • Beter organisasie te bevorder
  • Stres en angs te verminder

“Dit help leerders om afleidings van ander ruimtes in die huis af te sny, soos ’n TV wat raas, boeties en sussies wat speel en ander algemene huisklanke,” sê Rabie-Steynberg.

’n Toegewyde studiehoekie help leerders om ’n roetine vir hulself te kan skep sodat dit vir hulle makliker is om oor te skakel na studeer-modus.

’n Studiehoekie bevorder orde en help kinders om by te hou met wat alles voltooi moet word.

“Dit is dus uiters belangrik vir leerders wat met aandag en konsentrasie sukkel.

“Op sy beurt verminder dit ook stres en angs wanneer leerders ’n kalm, goed geordende studiehoekie het.”

Met verminderde angs en stres sowel as verbeterde konsentrasie vaar leerders ook akademies beter en dus kan só ’n spasie bydra tot akademiese sukses.

Uniek tot die leerder

Maar ’n studiehoekie is ideaal gesproke nie ’n gedeelde ruimte vir meer as een leerder nie, vertel Schoeman.

“Party kinders, of selfs grootmense, wil by ’n venster sit en werk, terwyl ander weer nie na ’n venster toe sit nie, want hul aandag word so afgetrek. Maar vir ander het ’n venster-uitsig ’n kalmerende effek, eerder as om angstig teen ’n muur vas te staar.”

Sy verstaan die nut in ’n eetkamer-studiehoekie wanneer ouers twee of meer kinders deur die skool moet sit.

“Dan is ’n eettafel meer as geskik om dit ná middagete mooi skoon te vee en lekker vir huiswerk in te rig. Jonger kinders leer ook baie deur saam met ander te studeer en huiswerk te doen. Uiteraard kan jonger leerders ook vir ouer leerders steurend wees.”

Sy beveel aan dat die gepaste manier om ’n studiehoek vir jou kinders op te stel, persoonlike voorkeur verg.

Skep hul eie ruimte

Rabie-Steynberg maan egter “dit is tog belangrik dat leerders hul eie ruimte moet inrig sodat dit hulle motiveer en dit vir hulle lekker is om tyd daar deur te bring”.

Byvoorbeeld, leerders kan inspirasieplakkate plak, hul gekose kleurpenne gebruik en gemaklike meubels hê.

Daar is wel ’n paar algemene wenke wat ouers met die inrig van ’n studeerruimte kan volg:

  • Maak seker dat die lessenaar en die stoel by die kind se lengte pas. “Dit raak ’n duur uitstappie om meubels elke jaar aan te skaf soos ’n kind groei. Ouers kan dus ’n lessenaar groot koop, maar maak seker dat die kind se voete plat op die grond of selfs op ’n voetbankie rus en dat hul knieë 90 grade buig.”
  • Die stoel moet by die lessenaargrootte pas. “As ’n kind ongemaklik sit, gaan hulle begin kriewel en dit kan hul konsentrasievermoëns belemmer.
  • Die ideale beligting vir huiswerk (in die aand) is as lig van bo af skyn sodat daar nie skaduwees is wat die leerder pla nie.

“Die beste tyd van die dag om huiswerk te doen, is vroegmiddag wanneer daar nog genoegsame natuurlike lig is en wanneer kinders nog nie oormoeg van die dag se aktiwiteite is nie.

Wat vir Schoeman die belangrikste is ten opsigte van fokus en konsentrasie is:

  • Genoeg slaap en oefening
  • Gesond eet
  • Beperk skermtyd
  • Goeie lig en ventilasie
  • ’n Gemaklike stoel
  • Gereelde blaaskanse

“ ’n Selfoon moet ver wegbly wanneer dit kom by studietyd. Navorsing toon dat oormatige skermtyd, of blaai-aktiwiteit (scrolling) op enige sosialemedia-platform nadelig is vir langtermynfokus en -konsentrasie.”

You need to be Logged In to leave a comment.