Met ’n algehele oorwinning van 85,44% het die DA geseëvier in die Wyk 8-tussenverkiesing, wat gister (23 Oktober) in Brackenfell en Kuilsrivier plaasgevind het.
Met ’n kleiner aanhang het die party Capexit 13,41% van die totale 3 912 stemme gekry, gevolg deur die ANC met 45 stemme (1,07% ).
Johann Loots, nuwe raadslid vir Wyk 8, het die gemeenskap vir sy volgehoue vertroue in die plaaslike regerende party bedank.
Eerste op sy prioriteitslys is om die parke in die wyk aan te pak.
“Ons gaan eerstens die parke identifiseer wat dringend opknapwerk benodig. Alhoewel die parkedepartement alreeds begin het met die sny van die gras in parke, moet ons nog steeds verseker dat dit so effektief as moontlik gebeur,” sê hy.
’n Ander belangrike kwessie wat sy waarop hy wil fokus, sê hy, is dié van haweloses.
“Goeie kommunikasiekanale tussen alle rolspelers is van belang om te verseker dat daar nie verder enige onreëlmatige strukture opgerig word in die gebied nie.”
Loots sê sy kantoor sal graag met die Brackenfell-belastingbetalersvereniging saamwerk om die wyk te verbeter, dít ten spyte van ’n gebrek aan vertroue uit die geledere van die vereniging se lidmaatskap.
“Ek en my bestuurspan sien uit daarna om aan die werk te spring en om na die gemeenskap se belange om te sien.”
Carla Lourens, kandidaat vir Capexit, het Loots gelukgewens met sy verkiesing.
“Ek wens jou alle sukses toe en hoop dat jy die verskil in ons gebied sal maak wat nodig is tot 2026. Die mense van Brackenfell het hulle besluit gemaak.”
Loots sal nou effektief vir die volgende 19 maande getoets word vir goeie dienslewering tot en met Mei 2026, wanneer die volgende plaaslike verkiesings plaasvind.