DA-raadslede se skorsing opgehef

Die skorsing van vyf DA-raadslede in Kaapstad is Vrydag (20 Januarie) deur die DA se federale raad opgehef.


Die skorsing van vyf DA-raadslede in Kaapstad is Vrydag (20 Januarie) deur die DA se federale raad opgehef.

Die aankondiging is gemaak na afloop van die DA se federale uitvoerende komitee se vergadering en die betrokke DA-raadslede se lidmaatskap van die koukus in die Stad Kaapstad is met onmiddellike ingang herstel.

James Selfe, voorsitter van die Federale Raad het die opheffing vandag (Maandag) bevestig.

“Die DA se regskommissie het bevind dat daar geen geldige rede is vir die voortgesette skorsing van die raadslede nie,” het Selfe gesê.

Hy wou nie verder uitbrei oor die regskommissie se bevindinge nie, maar het slegs bevestig dat die ondersoek nog voortgaan.

Die opdrag was na bewering deur die DA se federale bestuur goedgekeur
Leon van Rensburg

Grant Twigg, Marian Nieuwoudt, Carin Brynard, Xoliswa Pakela-Mapasa en Brenda Hansen, almal lede van subraad 2 wat die stadswyke in Brackenfell, Kuilsrivier en Kraaifontein verteenwoordig, is op 16 November verlede jaar geskors van alle DA-koukusaktiwiteite en -vergaderings in die stadsraad nadat hulle ’n opdrag van dié party verontagsaam het.

Met die aanvang van die nuwe munisipale termyn kort ná verlede jaar se munisipale verkiesing het dié subraad voor hul eerste vergadering ’n mandaat ontvang van die koukus in die Stad Kaapstad om Clive Justus as die nuwe subraadvoorsitter te verkies – ’n amp wat die afgelope twee termyne deur Grant Twigg beklee is.

“Die opdrag was na bewering deur die DA se federale bestuur goedgekeur. Nadat die federale bestuur egter aangedui het dat die opdrag nie deur hulle goedgekeur is nie, is Twigg genomineer en deur al die raadslede ingestem om weer die amp te beklee,” sê Leon van Rensburg, regsverteenwoordiger van die geskorste raadslede.

Die verkiesing van Twigg is opgevolg met die skorsing van die betrokke DA-raadslede.

Ten tye van die skorsing is daar beweer dat die raadslede die DA se federale grondwet teengegaan het deur die opdrag te verontagsaam.

Die skorsing is vooruitgeloop deur ’n interne opstand in die DA.

Van Rensburg sê hy wag op ’n volledige verslag van die DA se federale regskommissie.

“Ons het ’n verslag rondom die debakel ingedien en gevra dat die kwessie volledig ondersoek word,” sê hy.

TygerBurger wag op kommentaar van die DA se Wes-Kaapse kantoor.

You need to be Logged In to leave a comment.