Cliffie Marais met sy medalje nadat hy die Two Oceans-halfmarathon op Sondag 14 April voltooi het.


Die skielike afsterwe van Clifton ‘‘Cliffie” Marais (53) op Dinsdag 16 April net twee dae nadat hy die Two Oceans-halfmarathon gehardloop het, was ’n groot skok – nie net vir sy naastes nie, maar in ook die Sarepta-gemeenskap, waar hy sy lewe lank gewoon het, en in plaaslike sportkringe.

Marais het kort na die ontstaan van Kuils River Runners in 2016 by die atletiekklub aangesluit.

Hy was vir baie jare ’n speler en later ook ’n afrigter by die Kuilsrivier-rugbyklub, waar hy onthou word vir sy rol in die eenheid in plaaslike rugby. Die rugbyklub bied vanaand (Woensdag) om 19:00 ’n gedenkdiens ter ere van Marais by die Jagtershof-sportterrein aan.

Donovan Isaacs, voormalige bestuurslid en oudspeler van die rugbyklub, sê Cliffie het slot gespeel en was vir 17 jaar kaptein van die Kuilsrivier-rugbyspan. “Hy het die span gelei tot in Superliga A. As ’n leier het sy woorde en dade ooreengestem.”

Isaacs sê Marais was ’n goeie speler en ook onderkaptein van die WP Akademie-span.

“In 1992, 32 jaar gelede, was daar twee rugbyspanne in Kuilsrivier, die A- en die B-span. Cliffie het vir die B-span in die ‘kleurlinggemeenskap’ gespeel.

“Die A-span was hier (by Jagtershof) waar ons nou speel. Cliffie was instrumenteel om die twee spanne bymekaar te kry.”

Isaacs vertel dat Marais die manne aangemoedig het om saam te werk met die administrateurs, onder andere Thelo Wakefield, sodat ’n verenigde Kuilsrivier-rugbyklub in die WP-rugbyunie gestig kon word.”

Dit het bygedra tot die samesyn en gemeenskapsbou deur sport.”

Isaacs sê een van sy mooiste herinneringe aan Marais was toe hulle danksy die klub se borg, Elto-Towers, ’n paar jaar gelede ’n Kersete vir die gemeenskap kon aanbied.

“Cliffie het vir my gesê dit was een van sy grootste drome om iets van betekenis vir die gemeenskap te kon doen.”

Wakefield het Marais in ’n aanlyn huldeblyk as ’n gerespekteerde gemeenskapsman en steunpillaar van die Kuilsrivier-rugbyklub beskryf.

“Hy was my regterhand tydens die vereniging van rugby in Kuilsrivier.” Wakefield sê Marais se aanmoediging onder die lede het dit moontlik gemaak dat die twee klubs kon verenig.

“Hy was die eerste kaptein van kleur in die verenigde Kuilsrivier-rugbyklub en het baie vriende in klubrugby gemaak.”

Sagte reus

Wakefield sê Marais was ’n ware heer, wat gerespekteer en geliefd was juis oor die manier waarmee hy met ander omgegaan het.

Marais word oorleef deur sy vrou, Ursula, ’n dogter, Lizan Marais-Jacobs, ’n seun Benazzi, twee kleinseuns en sy ma, Elizabeth.

Lizan sê sy dood was ’n geweldige skok vir die familie. Sy het baie goeie herinneringe van die groot man met die sagte hart. “Almal sê hy was nederig. Hy was regtig ’n ‘gentle giant’, beslis ’n familieman. Hy het my ma op die hande gedra,” sê Lizan.

Haar twee seuns was hul oupa se hart se punt, vertel sy.

Lizan sê ’n kollega van Marais, saam met wie hy werk toe en terug gestap het, het vertel dat hy die Maandagaand voor hy oorlede is gesê het hy voel moeg, maar ook dat hy nog met sy kleinkinders sou speel voordat hy daardie aand sou gaan slaap. “Ons het nog almal ’n lieflike Maandagaand gehad – ons familie, almal saam, soos elke ander aand.”

Lizan sê volgens die dokter kon dit of ’n massiewe beroerte of ’n hartaanval gewees het. “Hy het sag in sy slaap gegaan.”

Die begrafnisdiens is Saterdag 27 April om 10:00 vanuit die Nuwe Apostoliese-kerk in Sarepta.

You need to be Logged In to leave a comment.