Om ander dowes te inspireer, het die 31-jarige Christo Lourens van Brackenfell vanjaar besluit om deel te neem aan die Mnr. Dowe Suid-Afrika-kompetisie en hy is boonop aangewys as een van die ses landswye finaliste.
“Ek wil ander dowe mense wys dat ons dieselfde as horende mense is en dat ons ook enigiets kan doen. Ek sal graag ook wil begin deur meer dowe mense bewus te maak van sport en te wys dat enigiemand dit kan doen. Ek het ’n groot hart vir al die gestremde mense,” sê Christo.
Die doel van die jaarlikse kompetisie is om die dowe gemeenskap te bemagtig en ’n brug tussen dowes en horendes te bou.
Lourens is doof gebore, maar dra ’n kogliêre inplanting wat sy gehoor verbeter het.
“Ek was van kleins af tot in matriek in gewone skole, en het gereeld gegaan vir spraak- en gehoortoetse, dus is ek baie dankbaar daarvoor dat ek kan praat en kan hoor. Ek was in Laerskool Totius en in Boston- Private Skool tot in matriek.”
Lourens sê hy is al ’n paar keer gevra om deel te neem, maar het nooit belang gestel nie.
“Ek het dié jaar gevoel dis nou die regte tyd en ek hou van ’n nuwe uitdaging,” sê hy.
Christo is ’n administrasieklerk vir ’n patologielaboratorium in Kaapstad en in sy vrye tyd leef hy sy liefde vir die buitelewe en sport uit.
“Ek het al hele paar keer die Visrivier-staptog in Namibië gestap, so ek is baie lief om vir paar dae te gaan stap en is ook ’n ywerige hardloper. Ek hardloop vir Brackenfell-hardloopklub en is ook baie lief vir fietsry.”
Om meer oor Christo te leer, besoek sy Facebook-blad Christo Lourens – Mr Deaf South Africa 2022 Finalist.
Om vir Christo in die Public Choice Award te stem, kan lesers hul stem stuur na 47439 met die nommer MDS10. SMS’e kos R3 elk.
Die finaliste sal van 8 tot 10 April in Gauteng bymekaar kom vir ’n werksessie en om mekaar te ontmoet.
Die eindronde word in September beslis.





