Normaalweg lewer die span by Checkers Sixty60 klante se kruideniersware by hul huis óf werksplek af, maar onlangs het dié blitsige afleweringsdiens ‘n tree verder gegaan deur uitnodigings vir ‘n matriek-dans by ‘n plaaslike skool af te lewer.
Leerders by die Hoërskool Bosmansdam in Bothasig was aangenaam verras toe twee van dié motorfietsbestuurders in hul ikoniese neon-groen baadjies by die skool se saal ingery het, en aan hulle hul uitnodings oorhandig het.
Die skool het in e-pos aan TygerBurger gesê hulle het Checkers Burgundy Square onlangs genader en met die winkelbestuurder Jakes Prinsloo hul idee gedeel. “Hy was opgewonde daaroor en gretig om ons by te staan. Met die ondersteuning van die tak en Prinsloo spesifiek kon ons daarin slaag om die idee in ‘n werklikheid om te skep,” sê Marelize Erasmus, hoof van sosiale media by die skool.
Die matrieks het op Vrydag 20 Junie hul Lewensoriënteringsvraestel geskryf.
“Toe hulle klaar was daarmee, het Checkers Sixty60 ‘n spesiale besoek by die skoolsaal afgelê. Hulle het tot binne-in die saal gery en die matrieks se uitnodigings vir die dans in getroue Sixty60-styl afgelewer – verpak in die kenmerkende afleweringsak,” sê Erasmus.
Twee opvoeders, Dorette Ford en Janike du Plessis, het die uitnodigings aan die Graad 12-leerders uitgedeel. Die span van Sixty60 het kort ná die aflewerig die skool verlaat, sê Erasmus.
“Dis ‘n plesier vir ons om in die gemeenskap betrokke te raak, en dis vir ons ‘n voorreg,” sê Prinsloo.