Shaun Mynhardt, kurator van die SA Legendesmuseum, Cece Winans en dr. Clyde Kotze van die Universiteit van Wes-Kaapland by die private byeenkoms ‘n uur voor haar eerste optrede in die Kaap.

Die Suid-Afrikaanse Legendesmuseum het ’n geskiedkundige mylpaal bereik toe die wêreldbekende gospel-sangeres Cece Winans as die heel eerste internasionale ikoon in die museum se permanente versameling opgeneem is.

Winans (60) is verlede maand in Kaapstad met die Internasionale Legende-toekenning vir 2025 vereer vir haar uitsonderlike bydrae tot gospelmusiek in Suid-Afrika en wêreldwyd. Die toekenning is net ’n uur voor haar uitverkoopte vertoning by Sun International se Grand Arena aan haar oorhandig deur die museum se kurator, Shaun Mynhardt, en dr. Clyde Kotze van die Universiteit van Wes-Kaapland.

Die aand, wat 5 000 aanhangers gelok het, was deel van haar “More than this”-wêreldtoer. Albei vertonings in Kaapstad was uitverkoop, net soos haar optredes vroeër die week in Johannesburg.

‘Dankbaar’

Winans het die toekenning met dankbaarheid ontvang en gesê:

“Thank you South Africa and everyone at the South African Legends Museum for this wonderful honour. To God be the glory. After 45 years in the music industry it is a great honour to see how South Africa has embraced me. There is a special shelf in my study for this SA Legends Award. We will stay in touch.”

Volgens Mynhardt beklemtoon haar opname die museum se missie om die nalatenskap van kunstenaars te vier:

“Cece Winans is meer as net ’n sangeres – sy is ’n simbool van hoop, geloof en uitnemendheid. Dit is vir ons ’n groot eer om haar nalatenskap in ons museum vir toekomstige geslagte te bewaar.”

Shaun Mynhardt, kurator van die SA Legendesmuseum, oorhandig die Legendetoekenning aan Cece Winans by ‘n private byeenkoms in Kaapstad net voor haar optrede ‘n uur later by GrandWest Arena.

’n Arbeid van liefde

Die Suid-Afrikaanse Legendesmuseum, bekend as Die Huis van Legendes, is op 19 Augustus 2019 as ’n private inisiatief begin – sonder staats- of korporatiewe finansiering. Mynhardt en sy span het oor vyf jaar heen landwyd gereis om kunstenaars en akteurs te besoek en kosbare memorabilia te versamel. Op 26 Januarie 2020 het die museum sy deure vir die eerste keer vir die publiek oopgemaak.

Teen Januarie 2026 sal die museum ’n permanente tuiste in Bloubergstrand hê, waar ’n gala-inhuldiging beplan word om Kaapse legendes, onder wie bekende akteurs, aanbieders en sangers, te vereer.

Met meer as 50 000 volgelinge op sy Facebook-blad deel die museum gereeld nuus, verjaarsdae en “Ons Onthou”-plasings van kunstenaars. Mynhardt word intussen deur die media beskou as ’n betroubare bron wanneer daar oor die heengaan van bekende figure berig word.

’n Lewende nalatenskap

Met 17 Grammy-toekennings en ’n loopbaan wat oor vier dekades strek, het Cece Winans geslagte geïnspireer. Haar opname in die Suid-Afrikaanse Legendesmuseum is nie net ’n erkenning van haar wêreldwye impak nie, maar ook ’n bevestiging van haar besondere verbintenis met Suid-Afrika en sy mense.

Van hierdie dag is Cece Winans vir ewig deel van Suid-Afrika se lewende nalatenskap, verewig binne die mure van Die Huis van Legendes.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article