In die tweede afdeling van TygerBurger se reeks oor bendes gesels ons vandeesweek met Ds. Llewellyn MacMaster, die voorsitter van die Cape Crime Crisis Coalition (CCCC), oor die oorsake van bendegeweld en wat gedoen kan word om dit hok te slaan.
MacMaster sê die CCCC is diep bekommerd oor die aanhoudende toename in geweldsmisdaad – veral die patroon van groep- of massamoorde en bendeverwante skietvoorvalle in gemeenskappe soos Khayelitsha, Gugulethu, Bishop Lavis en Philippi en ander woonbuurte op die Kaapse Vlakte, maar ook in ander dele van die provinsie, sowel as in ander dele van die land. “Hierdie is nie geïsoleerde voorvalle nie – dit is simptome van ’n dieper, stelselmatige krisis. Die volgende onderliggende oorsake word deur navorsing en gemeenskapsorganisasies uitgewys, wat gewis nie onbekend is aan die staat nie. Daar word byvoorbeeld gereeld verwys na die sofgenaamde ‘whole of government, whole of society’-benadering, wat aandui dat ons nie eng of simplisties na die komplekse uitdagings van geweldsmisdaad moet kyk nie.
“Diepgaande en historiese sosio-ekonomiese ongelykhede soos werkloosheid, armoede en beperkte toegang tot onderwys en vaardigheidsontwikkeling dryf jongmense na misdaadnetwerke as ’n vorm van oorlewing. Die afwesigheid van en swak dienslewering deur die staat, soos ‘n gebrek aan behoorlike behuising, infrastruktuur, gesondheid, jeugontwikkeling en polisiëring, skep ‘n omgewing waar misdaad floreer,” sê MacMaster.
Morele waardes
Volgens hom is die verval van morele waardes ook ‘n bydraende faktor in die groeiende bendeprobleem. “Gemeenskappe is onder druk, gesinne is verskeur en daar is ’n gebrek aan rolmodelle en morele leiding vir die jeug. Die geskiedkund en ‘inter-generational’ trauma loop baie diep in mense en gemeenskappe. Die morele vesel van ons samelewing is aan flarde. Bendes floreer waar korrupsie en onbetroubare wetstoepassing hulle beskerm. Bendes werk binne georganiseerde misdaadnetwerke met internasionale bande, wat byna elke faset van ons samelewing infiltreer het, met die gevolg dat die sogenaamde ‘criminal economy’ uiters sterk gevestig is.
“Hierby dra die lae vervolgingsyfer en gebrek aan beskerming vir informante, fluitjieblasers en getuies by tot ‘n gevoel van magteloosheid. Mense het nie vertroue in die strafregstelsel nie. Die onlangse opspraakwekkende onhullings deur die polisie se provinsiale kommissaris in KwaZulu Natal, het – te verstane en te verwagte – die kwik in die land geweldig laat styg. Mense is moeg, gefrustreerd en kwaad oor die kutuur van straffeloosheid en eis ingrypende stappe en transformasie van die hele stelsel,” sê hy.
MacMaster sê die CCCC het verskeie voorstelle om die bendebedrywighede te bekamp. “Die polisie moet gefokusde, taktiese teenbende-optredes van stapel stuur met ondersteuning van nasionale eenhede en onafhanklike toesig. ‘n Interdepartementele beraad van die polisie, provinsiale regering, munisipaliteite, burgerlike samelewing en geloofsinstellings moet onmiddellik belê word en veilige en anonieme meganismes moet in werking gestel word om die vrees van informante die hoof te bied. ‘n Kommissie van ondersoek na bendes en georganiseerde misdaad moet in die mediumtermyn gestig word. Die CCCC het reeds ‘n maand gelede so ‘n versoek gerig. Dit moet nie net op die Kaapse Vlakte en in die Wes-Kaap gerig wees nie, maar moet ook op ander dele van die land fokus. Die president self moet hierdie kommissie aanstel en met die nodige magte toerus, wat dan met duidelike aanbevelings kom. Daar moet gekyk word waarom die goeie werk en aanbevelings van vorige kommissies van ondersoek nie ingestel is nie – wat tot die huidige skeptisisme oor sulke kommissies bygedra het.
“Daar moet investering wees in nasorgprogramme, vakleerlingskappe en gemeenskapsprojekte, wat jongmense aan hoop en vaardighede bind . Plaaslike polisiekantore moet proaktief met gemeenskapsveiligheidsforums saamwerk en aanspreeklik wees teenoor die publiek. Die skuif en naamsverandering van ‘n polisiemag na ‘n polisiediens moet hierdeur sterker beklemtoon en getoon word. Groter konsultasie en insluiting van gemeenskappe by die aanstelling en evaluering van stasiebevelvoerders is ook broodnodig. Meer speurders moet aangestel word, sodat ondersoeke tot skuldigbevinding en gevangenisstraf kan lei,” sê hy.
Almal moet saamwerk
MacMaster benadruk dat geen organisasie ‘n ommeswaai kan bewerkstellig nie. “Kerke, moskees en ander geloofsgemeenskappe, skole en gemeenskapsorganisasies moet morele waardes aktief herstel – deur opvoeding, mentorskap en geestelike vorming. Hierdie morele opbou kan nie weer alleen net in die hande van die staat gelaat word nie. Dit behoort ook alle staatsaanstellings in te sluit. Almal van ons moet ons deel bydra tot die morele heropbou van ons land as teenvoeter vir die skynbare aanvaarding dat ons niks kan doen om die verrotting te stop nie. Uiteindelik is die misdaadkrisis nie net ‘n polisiëringsprobleem nie – dit is ‘n staats- en samelewingskrisis. Dit vra van alle sektore – die regering, geloofsgemeenskappe, skole, die sakegemeenskap en burgers – om ‘n gedeelde morele en praktiese verbintenis tot herstel en geregtigheid te handhaaf,” sê hy.


