Groot opgewondenheid heers nadat die Christen Aksie Netwerk (CAN) verlede week begin het met die verfraaiiing van die prominente sirkel by die Hoërskool Durbanville.
Die sirkel is ’n belangrike aansluitingspunt van Durbanville se Hoofstraat, waar dit Vissershokweg raak, met Koebergweg en Langenhovenstraat.
CAN is al bekend vir die pragtuine wat op eilande, sirkels en sypaadjies in Durbanville en Bellville geskep word.
Die projek word aangepak deur CAN in samewerking met die Durbiebond, ’n oudleerderorganisasie van die Hoërskool Durbanville, hoewel die skool as sodanig nie by die projek betrokke is nie, met die toestemming van Stad Kaapstad.
“Ons is baie opgewonde om dié sirkel aan te pak, omdat dit soos die hartjie van Durbanville voel. Die sirkel is op baie mense se daaglikse roete en ons sal dit graag die hoogtepunt van hul dag in die verkeer wil maak,” sê Yolande Snyders, medestigter van CAN.
“Die samekoms van drie strate gaan uitgebeeld word op die sirkel deur segmente bruin gruis, gevul met ’n kleurvolle mosaïek van geharde plante tussen-in,” sê sy.
Die geraamde koste van die projek is R75 000.
“Ons het gereelde skenkers en nou ook donateurs wat ook saam met ons opgewonde is oor dié projek. Portland Quarry het ’n groot vrag gruis geskenk, waarvoor ons innig dankbaar is,” sê Snyders.
Nog slegs R29 800 is egter van donateurs ontvang en daar word dringend na nog skenkings gesoek.
Die Durbiebond het intussen ook sowat R16 000 ingesamel van oudleerders, sê Hilda Thomson, stigterslid van die Durbiebond.
Die rommelhouers is deur SkippyS geborg, terwyl sand deur Van der Westhuizen Vervoer geskenk is. Albei donateurs is ook lede van die Durbiebond.
“Die sirkel is op die hooftoegangsroete na die skool geleë en besoekers se eerste indruk van die skool. Ons sien daarna uit dat ’n verfraaide sirkel besoekers welkom sal laat voel. Ons is veral opgewonde oor die projek in die lig van ons skool se 200-jaar- vierings in 2027,” sê Thomson.
“Die projek is ten bate van die hele gemeenskap en ons hoop dat die gemeenskap dit sal omarm en ook daartoe sal bydra. Elke bietjie help; saam kan ons ’n verskil maak,” sê sy.
Die sirkel sal ná voltooiing deur CAN in stand gehou word, soos al hul projekte.
CAN is in Desember 2019 gestig nadat Wouter Kruidenier, ’n tuinboukundige, en werkers van sy onderneming De Kruidenier Eksklusiewe Tuine in Julie 2018 reeds begin het om op eie koste sirkels te verfraai. De Smit Eksklusiewe Strukture het by hulle aangesluit om CAN te stig.
Ander projekte deur CAN sluit in die verfraaiiing van die sirkel by Curro in Brackenfell-boulevard; die sirkel op die hoek van die gholfbaan in De Villierslaan; sirkel in D’Urbanvale; sirkel (met palmboom) in Langebergweg; sirkel in Vissershokweg (wat binnekort weer verfraai sal word), asook eilande in Durbanvillelaan van Kerkstraat tot die Bella Rosa-kompleks; die eilande in Van Riebeeckshofweg tot naby Welgedacht, asook die eiland by die Ipic-winkelsentrum in Kenridge.
Die pragtige tuine teen walle langs Jip de Jager-rylaan, wat oor meer as ’n kilometer strek, is ook CAN se handewerk en sy grootste projek.
Ander projekte sluit in die eiland by die Laerskool Durbanville in Durbanville-laan (konstruksie van rante en beplanting); sypaadjies langs Renbaanweg en St. Johnsweg; die lang skraal sypaadjie langs Suikerbosstraat in Durbanville Hills, asook by die Durbanville-natuurreservaat.
Stuur ’n e-pos na info@dekruidenier.co.za of help@ucan.org.za of kontak Hilda Thomson by hildathomson159@gmail.com vir meer inligting of om ’n bydrae te maak.


