Pieter Smit en Yolande Snyders van C.A.N. is hier met die aangaan van die memorandum van verstandhouding by Theresa Uys (middel), raadslid vir Wyk 112 en die Stad se burgemeensterskomiteelid vir korporatiewe dienste.


Die verhouding tussen die organisasie Christen Aksie Netwerk (C.A.N.), wat met toewyding die sypaadjies, sirkels en ander openbare gebiede in Durbanville en omliggende areas verfraai, en die Stad Kaapstad is letterlik aan die blom.

Die Stad het onlangs ’n memorandum van verstandhouding met C.A.N. aangegaan en ’n skenking van R5 000 uit die Burgemeestersfonds aan die organisasie gemaak.

Towerwêreld van kleur

Die projek het ontstaan toe Wouter Kruidenier van De Kruidenier Eksklusiewe Tuine in Durbanville in 2018 op sy eie begin het om die vaal sypaadjies, sirkels en eilande in dié dorp, asook in dele van Bellville, onder hande te neem.

Nadat Pieter Smit en Yolande Snyders by hom aangesluit het, is C.A.N. in Oktober 2019 as ’n nie-winsgewende organisasie gestig.

Die openbare ruimtes het sedertdien ’n gedaanteverwisseling ondergaan en is in ’n towerwêreld van kleur omskep.

LEES | Dié pragtuine kikker paaie op

Motoriste in onder meer Durbanville-rylaan van Kerkstraat in Durbanville tot Kendalweg in Bellville sien gereeld die C.A.N.-tenkwa waar werkers besig is om plante te plant, te versorg en in die somer water aan te dra.

Ook die tuine van die Durbanville-kinderhuis word sedert 2018 in stand gehou. ’n Groentetuin is onlangs daar aangeplant, en word onderhou. Ook die tuine van Huis Aristea en elders in die dorp baat by die kreatiewe groen vingers van C.A.N. se span.

Die inwoners van D’Urbanvale is só in hul skik met die verfraaiing van ’n sirkel in Mosselbankrivierweg in dié woongebied dat hulle C.A.N. genader het om ook die ander twee sirkels te verfraai.

Positiewe transformasie

“C.A.N. het homself bewys as ’n katalisator vir positiewe transformasie in Durbanville.

“Gedryf deur sy passievolle lede poog C.A.N. om die omgewing te verfraai en kweek dit burgerlike deelname,” het Theresa Uys, raadslid vir Wyk 112 en die Stad se burgemeensterskomiteelid vir korporatiewe dienste, gesê.

LEES | CAN verfraai sirkel

“Ons hoop dat die finansiële bydrae C.A.N sal help om sy werk in ons pragtige dorp voort te sit. Deur die vennootskap tussen C.A.N. en die Stad te bevorder, vind almal baat by die projek. “Ons hoop dat C.A.N. binnekort op die Stad se databank as organisasie sal registreer sodat ons verdere geld, onder meer uit raadslede se wykstoekennings, kan skenk,” het Uys gesê.

MySchool

Snyders het aan TygerBurger gesê hulle is baie opgewonde oor die positiewe verhouding wat tussen C.A.N. en die Stad blom.

“Projekte waarmee ons tans besig is, is om die Rust-en-Vrede-galery en Huis Aristea se tuine op te knap, asook die volgehoue instandhoudingswerk wat ons maandeliks doen vir al die gebiede wat C.A.N. al verfraai het,” het Snyders gesê.

  • Mense kan bydra deur maandelikse debietorders, kaartbetalings deur die skandering van hul QR-kode of Christian Action Network as begunstigde op hul MySchool MyVillage MyPlanet-kaart te kies. Kontak C.A.N. by help@uCAN.org.za met navrae.

You need to be Logged In to leave a comment.