AfriForum se Bellville-buurtwag het vandeesmaand sy patrollies verskerp deur nou ’n minimum van vier voertuie op die pad te hê, wat die woonbuurt – veral waar dwelmhandel, onwettige immigrante en prostitusie hoogty vier – saans patrolleer.
In Oktober is ongeveer 1 200 km tydens dié patrollies in voertuie afgelê, luidens ’n verklaring van AfriForum, wat op Woensdag 23 Oktober uitgereik is.
Kwaaddoeners kry trekpas
Sedert die begin van Oktober is daar ook al ’n aantal mense van die straat verwyder en versoek om blyplek by Safe Space, ’n fasiliteit vir straatmense, te kry.
Die Bellville-buurtwag hou ook ses parke in die omgewing in stand – Kingsmeadlaan-park, De Jongh-park (in Postmastraat), Mareestraatpark, Herbertpark (in Canterburystraat) en Calvynpark (in Meathstraat).
Hierdie ses parke beslaan altesaam 95 000 m².
Die buurtwag verwyder weekliks twee bakkievragte rommel – tussen 30 en 40 swartsakke – vanuit dié parke, asook hope kartonbokse waarop die haweloses slaap.
Spuitnaalde vernietig
Daar is veral ’n ernstige probleem met spuitnaalde vir vermoedelik dwelmgebruik, wat in parke, asook op skoolterreine en kerkpersele, gevind word.
Die buurtwag het onlangs op ’n klomp gebruike spuitnaalde afgekom wat vir vernietiging ingedien is.
Die Oakdale-buurtwag maak gereeld kapsieoor dié kwessie rondom Step Up se spuitnaald-verruilingsprogram (“Step Up trap stel af”, TygerBurger, 10 Augustus).
Volgens die Oakdale-buurtwag se ondervoorsitter, Yollanda Fritz, het hulle kragte met Afriforum-buurtwag saamgespan om die parke, skole en kerkpersele te patrolleer.
“Ons by Oakdale Watch is opgewonde om die positiewe samewerking met AfriForum te deel. Hierdie vennootskap het ons in staat gestel om ons gemeenskap beter te beveilig en die lewensgehalte van ons inwoners te verbeter,” sê Fritz.
Volgens haar maak AfriForum se ondersteuning en betrokkenheid ’n merkbare verskil.
“Saam werk ons aan verskeie projekte om veiligheid te verhoog en bewusmaking te skep oor die belangrikheid van gemeenskapsbetrokkenheid. Ons waardeer die toewyding en hulpvaardigheid van AfriForum en sien daarna uit om saam te werk aan ’n veiliger en sterker Oakdale.”
Sedertdien is ’n aantal suksesse bereik, waaronder twee huisbrake wat gefnuik is danksy AfriForum-buurtwaglede se spoedige optrede.
In ’n ander voorval het die buurtwag ’n deurslaggewende rol gespeel in die inhegtenisneming van vier vermeende huisrowers.
Die buurtwag het inligting oor die verdagtes se doen en late aan die polisie deurgegee, waarna hulle in hegtenis geneem is.
Die AfriForum-buurtwag bedank die gemeenskap wat hul oë en ore is, en hulle inlig van enige verdagte optrede.
“Daar is vele uitdagings in hierdie omgewing, maar ek is trots op dit wat die buurtwaglede tot dusver vermag het.”