Dis waarskynlik danksy sy buurtwag-instink dat James Ellis, voorsitter van die Glenwood-buurtwag gistermiddag (Dinsdag 30 Januarie) vinnig opgetree het ná hy rook by ‘n huis in Monte Vista opgemerk het.
Hy was besig om te bestuur en het verby die huis gery toe hy die rook sien. Hy het onmiddellik besef die rook kom nie vanuit die erf nie, maar van die huis self. Ellis het uitgeklim en eers geroep om te hoor of die inwoners tuis was.
Volgens hom het die huis verlate gelyk en daar was ‘n veiligheidshek wat toe was. Kort daarna het die senior inwoner by glasdeure langs die kant van die huis uitgekom, maar hy is weer terug na binne.
“Ek het na hom bly roep, maar hy wou nie uitkom nie. Dis toe dat ek besluit het ek moet hom net daar uit kry.” Ellis sê hy het die veiligheidshek uit die muur gepluk en die man sien staan in ‘n vertrek wat vol boeke en lêers was.
“Ek gryp hom toe, want die rook het erg begin opwalm in die huis.” Ellis het hom na buite geneem en die brandweer ontbied. Intussen is die inwoner egter weer terug in die brandende vertrek in, omdat hy van sy goed wou red, vertel Ellis.
Teen dié tyd het die glasdeure begin bars van die hitte en die brand het na die dak versprei. “Ek gryp hom toe en sê ons moet uit die huis kom.”
Hy het die man geneem na ‘n hoek van die erf waar die rook nie so erg was nie. Die brandweer was kort daarna op die toneel.
Paramedici het die inwoner op die toneel ondersoek en suurstof gegee. Die 77-jarige man het geen beserings opgedoen nie.
Ellis sê die man het vir hom gesê dat hy papiere in sy kaggel verbrand het en daarna gaan slaap het.