Johannes Arnold het die middag van 5 Desember die huis waar hy by sy suster gewoon het, verlaat, en nooit weer teruggekeer nie. Die soektog na hom het gister in die lykshuis van die Tygerberg-hospitaal geëindig.
Volgens sy suster, Berenice Slinger, was dit nie in die 53-jarige Arnold se geaardheid om weg te bly nie en toe hy die aand van 5 Desember nie huis toe kom nie, was hulle bekommerd.
“My ouers het drie kinders gehad en Johannes was die oudste. Ek en my suster het ons maar al die jare oor hom ontferm. Hy was nie getroud nie en het ook nie kinders gehad nie. Sy hele lewe het om sy werk met die buurtwag gedraai,” sê ’n gebroke Slinger.
Slinger sê hulle het soos die dae verbygegaan het, al hoe meer bekommerd geraak toe Arnold nie by die huis opdaag nie.
“Ons het by ander familie probeer uitvind of hy nie dalk daar kuier nie, maar niemand het hom gesien nie. Uiteindelik het ons by lykshuise begin navraag doen tot ons hom by die lykshuis van die Tygerberg-hospitaal opgespoor het.
“Ek was geskok toe ek sy gesig sien. Dit wil nou blyk of sy liggaam reeds die dag ná sy verdwyning, op 6 Desember, langs Hindle-weg gevind is. In dié stadium weet ons nie veel meer as dit nie,” sê Slinger.
Koolsum Ismail, wat saam met Arnold in die buurtwag was, sê die groep is verslae oor sy moord.
“Ons sukkel nog om te aanvaar dat hy dood is, want hy was een van die mees betroubare lede van die buurtwag. Hy sou saam met ons tot in die vroeë oggendure stap en sou nooit daaroor kla nie. Sy heengaan sal voorwaar ’n groot leemte in ons groep laat,” sê Ismail.
Ao. Brian Daniëls, woordvoerder vir die Delft-polisie, sê in dié stadium word ’n saak van moord nog nie ondersoek nie.
“In dié stadium ondersoek ons ’n saak van strafbare manslag, maar ons kan dit wel later in ’n moordondersoek verander. Ons wag nog op beeldmateriaal van die kameras op die R300 voor ons besluit oor hoe die ondersoek verder gaan vorder,” sê Daniëls.