’n Groot geraas (en groot ompad) wag vir Kaapse motoriste wat volgende naweek die N1 wil gebruik.
Die Old Oak-brug, wat oor die N1 staan, gaan oor die naweek van 12 tot 14 Mei gesloop en verwyder word.
Dit is deel van ’n multimiljoenrand-opgradering van die N1 naby Kaapstad.
Volgens Taki Amira, raadslid in dié omgewing, gaan die N1 (in albei rigtings) vanaf Vrydag 12 Mei om 19:00 tot Maandag 14 Mei 05:00 gesluit wees.
Motoriste wat in die Paarl se rigting reis, gaan deur Eversdalweg herlei word.
Motoriste wat die stad binnekom, sal op ’n roete herlei word wat onder meer op die die R300 gaan.
Die Wes-Kaapse departement van vervoer en openbare werke het vroeg in 2016 met ’n R487 miljoen opgradering van die N1 begin.
As deel van dié projek gaan ’n 9 km-strook van die N1, wat vanaf die Plattekloof-wisselaar tot R300 strek, verbeter word.
Dele van die N1 word breër gemaak en wisselaars word opgegradeer.
Die hele projek gaan na verwagting drie jaar duur. Lees die opvolgberig met meer inligting oor die brûe.