Die brug oor die N7-snelweg by die Raffinaderye-wisselaar is voltooi. Die amptelike opening van die brug sal later geskied.FOTO: Richard Roberts


Die brug op die kruising van die Raffinaderye-wisselaar en N7-snelweg is basies voltooi en sal binnekort amptelik geopen word.

Albei dubbelbane is tans oop vir verkeer, met net nog ’n paar werkers wat sigbaar is op die brug, waaroor Plattekloof-weg strek. Die afritte en opritte, wat ook tydens die projek verbreed is, is ook oop vir verkeer.

Die opknap- en bouprojek deur die Wes-Kaapse departement van infrastruktuur is deur Haw & Inglis (H&I) behartig. Die maatskappy se kantore op die bouperseel op die middelman langs die N7 is ook reeds verwyder.

In Desember verlede jaar het die Wes-Kaapse regering aangedui dat die bouwerk teen einde Februarie voltooi sal wees – voor die einde van die 2023-’24-boekjaar. Die projek het behels dat die ou brug gesloop moes word om plek te maak vir twee splinternuwe brûe.

Bouwerk het in Julie 2021 begin en het oor die laaste paar maande vir erge druk verkeer in albei rigtings oor die N7 gesorg.

TygerBurger het in November 2023 juis berig oor motorryers se frustrasie, (“Roadworks vexing”, 15/11/23). Omgekrapte motoriste wou toe juis vasstel wanneer die bouwerk voltooi gaan wees.

Sommige inwoners het gesê dit neem hulle 40 minute net om uit Burgundy Estate te kom. Ander het gesê dit neem hulle 50 minute vir ’n rit tot by die N7, wat veronderstel is om vier minute te duur. Die N7-snelweg en die brug is geleë naby Richwood, Burgundy Estate en Bothasig.

Inwoners verheug

Mario Borchards, voorsitter van die Bothasig-inwonersvereniging, het by navraag gesê oor die laaste paar maande het die padwerke wat met die projek gepaard gaan, uitdagings aan inwoners gestel, veral in die omgewing van die verkeersirkel by De Grendel-rylaan, Bothasig.

“Die bou-aktiwiteit het sonder twyfel inwoners van Bothasig geraak. Dit het vertragings en druk verkeer veroorsaak, veral in spitstye.

“Die sirkel veral het ’n kernpunt geword van frustrasie as gevolg van sy rol as sleutel-kruising.

“Hoewel, met die voltooiing van die werk op Plattekloof-weg, en die Raffinaderye-wisselaar, verwag ons nou reuseverbetering in verkeersvloei. Die nuwe infrastruktuur is ontwerp om druk verkeer te verlig en om veiligheidsmaatreëls te versterk,” sê Borchards.

You need to be Logged In to leave a comment.