Skaars ’n maand nadat André Brink van Groot Phesantekraal buite Durbanville as die Wes-Kaapse Boer van die Jaar aangewys is, is hy op 15 November ook as die Landbouskrywers SA (AWSA) se SA Boer van die Jaar vir 2024 aangewys (“André Brink is die Wes-Kaap se Boer van die Jaar”, TygerBurger 6 November).
Brink is vroeër vandeesmaand ook as die Durbanville-Sakekamer se Sakeleier van die Jaar aangewys (“Sakeleier aangewys”, TygerBurger 13 November).
Die gesogte toekenning is by die AWSA-toekenningseremonie in Centurion oorhandig, waar hy erkenning ontvang het vir sy baanbrekers- en inspirerende benadering tot landbouvolhoubaarheid en voedselsekerheid.
Persoonlike hoogtepunt
Brink het aan TygerBurger gesê dit is vir sy boerdery en vir hom ’n persoonlike hoogtepunt om eers as Wes-Kaapse Boer van die Jaar en toe as SA Boer van die Jaar aangewys te word.
“Dit wys net weer, landbou-suksesse word nie in die korttermyn gemeet nie. Ek boer al so 30 jaar op my eie en om ná soveel jaar die erkenning te kry vir wat ons reggekry het, is regtigwaar ’n groot eer,” sê hy.
“’n Mens kan nie vandag in landbou iets doen, en môre sukses behaal nie. As jy vandag die beste stoetboel koop, gaan jy nie môre sy kalwers hê nie. Dit vat tyd en as jy vandag iets plant, plant jy dit vir die kleinkinders wat jy nog nie ken nie en nie weet of hulle daar gaan wees nie,” sê hy.
Brink sê hy is opgewonde oor die toekoms van landbou, “omdat dit gebou word op ondervinding van die verlede”.
“Of dit nou planttyd, oestyd of skeertyd is, jy kan regstellings doen en leer uit jou foute. Wat die toekoms van landbou betref, volg ons internasionale tendense dat groter landboueenhede al groter sal raak.
“Die ou gesegde dat 20% boere 80% van die produkte produseer, raak al hoe meer ’n realiteit as gevolg van meer koste-effektiwiteit omdat jy in skaal kan werk.
“Nog ’n ding in landbou wat in Suid-Afrika in die toekoms gaan verander, is die gebruik van tegnologie. Tegnologie het ’n paar bene, maar een groot hulpmiddel is dat ons masjinerie beter en optimaal kan gebruik om kostes af te bring, om presiese en akkurate kunsmistoediening te doen en meer akkurate onkruidbeheer toe te pas deur metodes te gebruik om onkruid spesifiek te teiken,” meen hy.
Weerverskynsels
Brink sê ’n ander groot hulpmiddel in landbou is dat weerverskynsels al hoe meer akkuraat voorspel kan word.
“Dit speel ’n groot rol, nie in klimaatsveranderinge nie, maar weersvoorspellings van 10 tot 30 dae, en selfs ses maande vooruit. Dit gaan in die toekoms baie meer ontwikkel en ek is opgewonde daaroor,” sê hy.
“Landbou is die gom wat Suid-Afrikaners bymekaar hou. Elke ou in die sakewêreld wat ’n paar rand ekstra het, wil vir hom ’n plekkie kry wat sy eie is. Ons as landbouers wat reeds grond het, is so bevoorreg. Ons moet net van siening wees dat ons altyd die grond beter laat as wat ons dit gekry het, en iets vir die toekoms doen.
“Landbou gaan werksgeleenthede kan skep. Dit bied vir ons bevolking ’n spandeerbare inkomste wat hul menswaardigheid ophef. Armoede is ’n nare euwel en dit spruit maar net uit werkloosheid. Die hoop vir boere is dat hoe meer ons uitbrei, hoe meer kan ons werk skep,” sê hy.
“Wat nog hoop vir Suid-Afrika gee, is die hoeveelheid jongmense wat in die landbousektor betrokke raak – nie soseer as grondeienaars nie, maar veral in tegniese ondersteuning, grondontleding en meganisasie.
“Die hoop vir boere in Suid-Afrika is dat ons in landbou bymekaar moet staan. Die politieke klimaat raak van so ’n aard dat ons verstaan hoe om met die regering te werk, en dit gee hoop dat die regering ook besef daar is plek vir landbou in Suid-Afrika,” sê hy.
Welverdiende toekenning
Pieter Koen, voorsitter van die Durbanville-Sakekamer, het Brink met sy “welverdiende toekenning” gelukgewens.
“Hierdie prestasie plaas nie net Durbanville onder die nasionale vergrootglas nie, maar trek ook nuwe aandag na ons wynvallei. Dit kom nie as ’n verrassing dat André hierdie toekenning ontvang het nie – hy is ’n boer met visie, uitmuntende waardes en ’n bewese rekord van sukses.
“Ons is trots op hierdie prestasie en dankbaar dat ‘n Durbanviller van sy kaliber ons gemeenskap so goed verteenwoordig. Hierdie toekenning is beslis ‘n hupstoot vir Durbanville se ekonomie en reputasie,” sê Koen.
Groot Phesantekraal, wat in 1698 gestig is, is al meer as ’n eeu in die Brink-familie, met Brink en sy seuns, Rennie en Jeandré, wat onderskeidelik die vierde en vyfde generasie verteenwoordig, luidens ’n mediaverklaring deur die plaas.
Onder sy leierskap sedert 1996 het Groot Phesantekraal gegroei van ’n beskeie 350 ha tot ’n florerende 4 650 ha, insluitend gehuurde grond. Die plaas se gediversifiseerde bedrywighede strek nou oor klein korrels, vee, wynproduksie en selfs ’n voerfabriek. Dit ondersteun 3 500 Dohne Merino-ooie, ’n Hereford-beeskudde van 400 en 180 ha wyndruiwe.
Brink is verantwoordelik vir die strategiese rigting van die onderneming, terwyl sy seuns op spesifieke gebiede fokus: Rennie dryf die graan- en wynsektore aan, en Jeandré bestuur die veebedrywighede en die plaas se voerfabriek. Brink se vrou, Ronelle, hanteer bemarking, administrasie en die plaas se wynuitvoer.
Bekroonde wyne
In 2022 is die plaas as Graan SA se Graanprodusent van die Jaar aangewys, en in 2015 het hy die Proteïennavorsingstigting se Canola-opbrengskompetisie gewen.
Intussen wys die plaas se bekroonde wyne, insluitend verskeie FNB Top-10 Sauvignon Blanc-toekennings die uitnemendheid wat deur elke aspek van die onderneming loop.
Brink se visie strek verder as die plaashek – hy is diep toegewyd aan die ekonomiese bemagtiging van sy werkers en die plaaslike gemeenskap. Vir hom gaan sukses nie net oor winste nie; dit gaan oor die bou van ’n volhoubare, inklusiewe landbou-onderneming wat almal betrokke bevoordeel, lui die verklaring.
Groot Phesantekraal se nominasie is deur die veteraanjoernalis Hugo Lochner van Plaas Media voorgestel, wat die plaas se aansien as ‘n leier in Suid-Afrikaanse landbou verder bevestig