Nuwe inligting in die voorval waarin Kyle Barnes (31), eerstespanspeler van die Goodwood-rugbyklub (GRK) op Saterdag 15 September beseer is en sedertdien breindood verklaar is, het aan die lig gekom.
Volgens dié inligting het die span teen die Strand-span gespeel (en nie Strand United soos wyd berig is nie). Dít is bevestig deur Petrie Human, Goodwood se afrigter.
Arthur Reichhardt, betrokke by die GRK, het Dinsdagaand aan TygerBurger gesê dat Barnes, die regtervleuel, nié op sy kop geval het soos wat hy (Reichhardt) aanvanklik van die spanbestuurder verneem het nie. Human het intussen bevestig dat die besering gebeur het ná kontak tussen Barnes en een van die ander span se spelers.
Barnes is gister, Dinsdag 18 September by Vergelegen Mediclinic in Somerset-Wes breindood verklaar. Hy was teen laat Dinsdag nog aan ‘n lewensondersteuningstelsel gekoppel.
Barnes het Maandag ‘n operasie ondergaan om die drukking op sy brein te verlig. Aanvanklik was daar nuus dat die operasie goed afgeloop het. Die swelling wou egter nie afneem nie en sy toestand het tot kritiek verswak.
Reichhard het gesê daar is beeldmateriaal van die wedstryd beskikbaar. Die WP-rugbyunie is besig met ’n ondersoek.
Barnes, van Ravensmead, het ongeveer vyf jaar vir Goodwood gespeel, ná hy vroeër vir Tygerberg-klub en NNK gespeel het. Hy was ook ’n paar jaar kaptein van die span, tot en met verlede jaar.