Vlamme het verlede Woensdagaand ’n huis in Hunterstraat in Table View byna verswelg.
Die motorhuis van dié woning het die ergste brandskade opgedoen, maar brandbestryders kon daarin slaag om die vuur in bedwang te bring. ’n Luukse voertuig wat in die motorhuis geparkeer was, is ook beskadig.
Inwoners in die straat het kort ná 19:00 verleë gestaan en toekyk hoe die brand die huis byna verwoes.
Brandbestryders was net voor 20:00 op die toneel om verdere skade te verhoed.
Twee brandweerwaens en brandbestryders het gou ingespring om die vlamme te blus.
TygerBurger het op die toneel verneem dat niemand ten tyde van die brand in die huis was nie.
Jermaine Carelse, woordvoerder van die Stad Kaapstad se brand- en reddingsdienste, sê dié diens is op Woensdag 7 Desember omstreeks 19:20 van die brand in kennis gestel.
Brandweerspanne van die Milnerton- en Brooklyn-brandweerstasies is met twee brandweerwaens en ’n watertenker na die toneel, sê Carelse.
“Die voertuig, ’n Mercedes-Benz wat in die motorhuis was, is erg beskadig, sowel as ’n gedeelte van die huis,” sê hy.
Die brand is om 20:50 geblus. Geen besering is aangemeld nie, het Carelse bevestig.


