‘n Pa van Bellville-Suid is in rou gedompel na sy 30-jarige dogter Saterdagaand in ‘n huisbrand gesterf het.

Marius Christians se dogter, Bianca Atkins is Saterdag in onbekende omstandighede dood toe die Wendy-huis waar sy gekuier het, uitgebrand het. Die voorval het in Kasselsvleiweg plaasgevind.

Atkins en haar vyfjarige meisiekind, Jennestine, het by hom gewoon.

Volgens Christians is hy erg geskok. Hy vertel hy het so na nege-uur die aand die nuus ontvang. Volgens hom het die polisie aan sy deur kom klop en sy dogter se identiteitsdokument kom soek.

“Al wat hulle vir my gesê het is hulle soek haar ID. Ek wou toe weet wat aangaan. Toe se die polisieman ek moet kom na die huis by die kerk.”

Met sy aankoms op die toneel het Christians verneem dat sy dogter dood gebrand het en die vuur was toe reeds geblus.

“Toe ek daar kom het die brandweer klaar daar gestaan, die vuur was geblus en ek het gesien die struktuur langs die huis was plat gewees.”

Volgens hom ken hy nie die mense op wie se perseel dit gebeur het nie, en het hy ook nie geweet dat sy dogter ‘n geruime tyd daar gekuier het nie.

Marius Christian wys waar sy dogter doodgebrand het. Op sy arm is Bianca se klein dogtertjie, Jennistine. FOTO: Mauricia Petersen

Gerty Kazu (90), wat op die perseel in die hoofhuis woon, vertel sy was besig om te bid toe toe sy iets buite hoor.

“Ek was besig om te bid, toe hoor ek ‘n harde geluid soos iets wat ontplof en ek sien toe die lig buite.”

Kazu sê sy het geskree en haar een seun geroep om sy ander broer te gaan roep met wie Atkins na bewering in ‘n verhouding was.”

Sy weet ook self nie wat gebeur het nie en beskryf die voorval as skokkend en ongelukkig.

Behulpsaam

Verder beskryf Christians sy dogter as ‘n goeie mens wat ‘n mense-mens was. Nou na haar dood sien hy nou hoe geliefd sy was en die groot vriendekring wat sy gehad het.

Christians sê hy gaan haar behulpsaamheid baie mis, want sy het hom altyd gehelp by die huis. Vir hom was sy ‘n wonderlike dogter.

Hy vra dat die gemeenskap nie moet spekuleer nie en dat die polisie hul werk doen. Hy vra ook dat mense vir hom en Bianca se dogtertjie in vrede laat sodat hulle tyd het om te rou. Hulle wag nog vir die nadoodse ondersoek om die regte oorsaak van haar dood te bepaal.

Christians is tevrede met hoe die ondersoek verloop en vertrou die polisie om hul werk te doen.

Hy is dankbaar vir die Bellville-Suid GPF en buurtwaglede vir die oorweldigende ondersteuning wat hulle tot dusver gekry het. Christians wil Maandagaand 27 Oktober ‘n herdenkingsdiens by die huis vir sy dogter hou.

Jermaine Carelse, woordvoerder van die Stad Kaapstad se Brand- en Reddingsdiens, sê ‘n noodoproep is om 20:40 ontvang oor ‘n brandende Wendy-huis in Kasselsvleiweg, Bellville-Suid, op Saterdag 18 Oktober.

“Die span van Bellville was op die toneel en teen 21:15 het hulle daarin geslaag om die brand te blus, wat die hele struktuur vernietig het.”

Volgens Carelse het een persoon (geslag en ouderdom onbekend) noodlottige brandwonde opgedoen en is op die toneel dood verklaar.

Sers. Wesley Twigg, ‘n Wes-Kaapse polisiewoordvoerder het die geval bevestig.

Twigg sê die Bellville-Suid polisie het ‘n geregtelike doodsondersoek begin nadat die liggaam van ‘n 30-jarige vrou tussen die puin gevind is na ‘n brand in Kasselsvleiweg, Bellville-Suid, op Saterdag 18 Oktober.

“Die omstandighede rondom die voorval word ondersoek en die oorsaak van die brand moet nog bepaal word.”

Enigiemand met inligting oor hierdie voorval kan Crime Stop by 08600 10111 skakel of die mobiele toepassing MySAPS anoniem gebruik.

You need to be Logged In to leave a comment.