`n 41-jarige vrou het Sondagoggend in `n vuur by `n woning in Protea Village in Brackenfell omgekom.
Volgens Jermaine Carelse, woordvoerder vir die Stad Kaapstad se brandweerdiens, is die noodoproep omstreeks 08:55 ontvang, en het spanne van Kraaifontein, Brackenfell, Belhar en Roelandstraat hulle na die toneel gehaas.
“Brandbestryders het die brand net ná 11:00 geblus. Die hele woning is verwoes en ’n strukturele ingenieur is versoek aangesien daar tekens van ’n dreigende ineenstorting was,” sê Carelse.
Die vrou se liggaam is in die soldergedeelte van die huis gevind. Die polisie ondersoek die oorsaak van die voorval.
Deskundiges ingeroep
Kol. Jakobus Marthinus, bevelvoerder van die Brackenfell-polisie, sê die vrou kon nie betyds uit die huis kom nie en is moontlik deur rook oorval.
“Daar was altesaam sewe mense in die woning ten tyde van die brand. Een mens is hospitaal toe vervoer weens rook- inaseming, en geen verdere beserings is aangemeld nie. Die oorsaak van die brand is nog onbekend en daar word tans gereël vir branddeskundiges en die brandhond om die toneel te besoek,” sê Marthinus.





