Brackenfeller Jacques van Zyl woel met Duitse bordspel Catan

Skaars ’n jaar nadat die Brackenfeller Jacques van Zyl die Duitse bordspel Catan begin speel het, is hy verlede jaar as Suid-Afrika se nasionale kampioen aangewys.


Skaars ’n jaar nadat die Brackenfeller Jacques van Zyl die Duitse bordspel Catan begin speel het, is hy verlede jaar as Suid-Afrika se nasionale kampioen aangewys.

En in April vanjaar gaan hy die land by die Catan-wêreldkampioenskap in Stuttgart, Duitsland, verteenwoordig.

Dié ietwat uitdagende bordspel is ’n kombinasie van strategie, vaardigheid, baie uithouvermoë en ’n tikkie geluk – ’n bietjie soos Monopoly, maar tog uniek.

Jacques het in 2023 versot geraak op die spel toe hy die reëls van die speletjie baasgeraak het by die plaaslike Comic-Con, wat jaarliks in die Moederstad plaasvind.

Daar het hy teen baie ander spelers te staan gekom en uiteindelik genoeg punte opgebou om met sy eie Catan-bordspel weg te stap.

“Ek het my vriende dieselfde naweek aan die spel bekend gestel en later saam met Unplug Yourself begin werk om vir ander die spel te leer,” vertel hy.

Unplug Yourself is ’n inisiatief wat ten doel het om die lekkerte van bordspeletjies as ’n stokperdjie in Suid-Afrikaners aan te wakker.

Hulle besoek uitstallings soos Comic Con Africa, en bied bekendstellings by plaaslike kleinhandelaars oor die land heen aan.

In 2024 het Jacques begin liga speel met sy eerste wedstryd wat by Durbanville Games plaasgevind het.

Spelers van oor die land het by plaaslike speletjiewinkels deelgeneem en die 40 spelers met die hoogste punte op hul profiel is na die nasionale wedstryd genooi, wat by The Warren in Somerset-Wes plaasgevind het.

Grondstowwe

Jacques verduidelik die spel as volg. “Die Catan-bord verteenwoordig ’n eiland met verskillende grondstowwe, onder meer hout, baksteen, erts, graan en wol. Elke grondstof het ’n nommer tussen twee en 12. Elke speler kry die kans om twee dorpies en strate op die bord te plaas. Die dobbelsteen word gegooi en dan begin die pret.

Die getal wat gegooi is bepaal watter hulpbron uitgedeel word. As jy ’n huis langs die grondstof het, kry jy ’n hulpbron, andersins moet jy wag tot die volgende speler weer gooi.

“Spelers kan met mekaar onderhandel vir grondstowwe en as jy die regte hoeveelheid het, kan jy nog ’n straat bou en later nog ’n huis. Jy kan later jou huis uitbrei na ’n stad toe wat jou dan dubbel die hoeveelheid grondstowwe gee, asook ’n ekstra punt op die bord.

“Die doelwit van die bordspel is om die eerste speler te wees wat by tien punte uitkom. Jy moet net nie te veel kaarte in jou hand hê nie, want as jy of ’n ander speler ’n sewe gooi, dan moet elke speler wat meer as sewe kaarte in sy hand het, die helfte van die kaarte weer vir die bank teruggee.”

Vir Jacques lê die fassinasie in die spel in die risiko wat spelers moet neem om die bord oor te neem – iets wat ook fyn beplanning verg.

“Die rol van die dobbelsteen bring ’n element van geluk, maar met die regte strategie en ook die vermoë om buigsaam te wees in jou beplanning, kan dit tot oorwinning lei. Daar is baie ander weergawes van die bordspel wat ander elemente inbring, soos globale verhitting, ekonomiese elemente en selfs aanvallers wat die hele spel kan moeilik maak vir alle spelers. Dit maak dat jy moet vooruit dink en beplan, al weet jy nie wat gerol gaan word nie.”

Bordspeletjieklub

Hy behoort tans aan die Western Cape Catan-klub wat verlede jaar deur ’n klein groepie spelers in die provinsie begin is om bymekaar te kom vir sosiale geleenthede.

“Wanneer ek nie saam met die Catan-klub aan kompetisies deelneem nie, speel ek saam met die Meeple People, ’n bordspeletjieklub wat elke week bymekaarkom. Ek gaan speel ook af en toe by ander winkels soos Fanaticus, The Warren en The Luckshack. Ek speel ook die bordspel aanlyn deur middel van Boardgame Arena en Colonist. Dan speel jy teen spelers van oor die wêreld heen,” sê Jacques.

Die wêreldkampioenskap neem die formaat van drie rondes waar jy speel vir punte. Ná die drie wedstryde gaan die top-16 deur na die halfeindronde, waarvan die wenners by elke tafel deurdring na die finale tafel toe.

“Pryse op die spel is gewoonlik Catan-handelsware soos ekstra bordspeletjies of die nuwe, moderne stukkies wat jy kan gebruik. Die ontwerper van die spel, Klaus Teuber, het nie geglo aan kontant as ’n prys nie. En vir my is dit meer belowend om met ander bordspelspelers te kan netwerk. Jy stap met vriendskappe weg, wat op die ou einde so verrykend is. My plan met my terugkoms is om die Catan- teenwoordigheid nog groter in Suid Afrika te maak.”

Die spel wat deur baie spelers as “verslawend” beskou word, en ’n topverkoper onder bordspeletjies, is in 1995 deur Klays Teuber as The Settlers of Catan in Duitsland geskep.

Sedertdien as daar al meer as 40 miljoen eenhede wêreldwyd verkoop in amper 50 tale.

Ter voorbereiding vir die wêreldkampioenskap het Jacques sedert Desember begin kyk na video’s van vorige wêreldkampioenskappe om te kyk hoe mense oor die wêreld heen speel.

“Die spel behels plasings en tafelgesprekke wat baie belangrik is in die groter kompetisies, omdat spelers hier oor belangrike aspekte van die spel debatteer. Dit verg ook baie uithouvermoë omdat een spel langer as drie ure kan duur. Ek speel elke naweek saam met ander ligaspelers op die moeiliker borde om gewoond te raak aan die taai kompetisie wat op my wag.”

Hoewel die senuwees soms ’n bietjie knaag, sien hy met groot opgewondenheid daarna uit om die Suid-Afrikaanse vlag met trots te dra.

In 2022 het ’n Suid-Afrikaanse speler deurgedring na die top-16, maar by dié tafel uitgeval. Jacques mik om daarop te verbeter.

“Ons almal droom van daai wen om met die titel weg te stap, maar die toernooi is nie net ’n geleentheid om te wen nie, maar ook om waardevolle ervarings te geniet en nuwe vriendskappe te bou. Om weg te stap van ’n tafel ná ’n lekker game is great, maar om weg te stap met nog ’n vriend is ’n oorwinning.

Sy fokus is duidelik: om sy beste te doen, en die land se naam hoog te hou.

“ ’n Mens weet nie hoe die dice gaan rol op die dag nie, maar ek gaan my beste gee,” en wie weet, dalk is 2025 die jaar waarin Suid-Afrika die finale tafel bereik.”

You need to be Logged In to leave a comment.