Die haglike toestande by Brackenfell-treinstasie bly ’n kopseer vir inwoners, wat nou moed opgegee het nadat hulle self die stasie vir jare lank skoongemaak het.
Volgens hulle lyk die terrein nou erger as wat dit ooit gelyk het.
Vullis lê gestrooi oor die hele terrein en sakke gemors hoop op verskeie plekke op. Informele smouse stal tweedehandse klere en ander goedere op die sypaadjies uit en talle haweloses wat by die stasie ingetrek het, stoor hul besittings op die terrein.
Daar is ook geen sekuriteit nie en André le Roux, ’n lid van die publiek, sê die stasie hou ook ’n groot gevaar in vir die skoolkinders wat in die oggende en middae die stasiebrug moet gebruik om huis toe te stap.
“Mense word elke dag daar beroof en dit stink. Dis die heel eerste keer in die geskiedenis van Brackenfell wat die stasie so sleg lyk. Daar moet nou besluite gemaak word om iets te doen.
“Ek het net nie meer die krag om self die stasie skoon te maak nie. Ek sien net nie meer kans nie,” sê Le Roux, wat die afgelope jare skoonmaakprojekte by die stasie gelei het.
“Iets moet gedoen word; dis Prasa en Transnet se stasie en hul verantwoordelikheid. ’n Mens kan nie glo hoe die stasie in net ’n paar dae weer bemors word net nadat ons dit skoongemaak nie. Prasa moet dringend aksie neem,” sê Le Roux.
Le Roux is verlede week met klippe bestook deur die talle haweloses wat nou hul intrek by die stasie geneem het. “Ek het gaan foto’s neem om aan te stuur na Prasa toe, toe hulle my bestorm het.”
Le Roux sê die stad se wetstoepassingsbeamptes kom gereeld uit om waarskuwings aan die onwettige smouse uit te reik en boetes uit te skryf. “Die boetes het egter geen effek nie. Die word net nooit betaal nie omdat die mense geen vaste adresse het nie. Hul goedere word geskut, maar sodra wetstoepassing hul rûe draai, is die mense terug met nuwe goed.”
Wayne Dyason, woordvoerder van die Stad se wetstoepassingsdepartement, sê sy en ander departemente takel hierdie sake op ’n daaglikse basis regoor die metropool.
Die werk van Jesus in Aksie (JiA), ’n nie-winsgewende organisasie wat opheffingswerk onder haweloses by die stasie doen, is ook in gedrang. Die ou stoor op die verste kant van die stasie-terrein huisves die organisasie se voedselstoor, die Lazarus-stoor, asook die groentetuine wat hulle op die werf geplant het as deel van die opheffingsprogram.
JiA doen al sedert 2010 opheffingswerk by die stasie en bedien areas regoor die skiereiland.
“Nathan’s Karwas, Ons Tuin en Earn-Your-Keep se projekte is daarop gemik om vrywilligers te beloon wat bereid is om te werk. Sondagdienste, jeug- en kinderbedieninge maak ’n groot verskil vir dié wat wil,” sê Ettienne Pio, JiA-voorsitter.
Volgens hom is onwettige storting tans ’n groot probleem. “Vullisdromme is opgerig en gereelde skoonmaak-aksies vind plaas, maar ons kan net nie meer voorbly nie. By ons terugkeer nadat die Lasarus-stoor toe was oor Desember, het dit gelyk asof die stasie uitmekaar val.
“Diefstal, strafregtelike klagtes en dreigemente teenoor ons pastoor belemmer JiA se werksaamhede – selfs om diegene op straat te help, wat werklik wil verander. Ons hulpkreet tot samewerking, met konkrete voorstelle, dien om ons stasie ’n ligbaken vir ons gemeenskap te maak,” sê hy.
TygerBuger het Prasa genader vir kommentaar, maar nog geen terugvoer ontvang nie.


