Opkomende boere van die Jesus-in-Aksie (JiA) -gemeenskapstuinprojek sal Donderdag, 16 Mei, by Checkers Proteahoogte se markdag hul organies verboude produkte regstreeks aan die publiek te verkoop.
Geleë op die ou Transnet-terrein by die Brackenfell-stasie, is dié projek genaamd Ons Tuin tydens die Covid-19-pandemie begin deur die nie-winsgewende-maatskappy Lazarus Stoor as deel van ’n opheffingsprojek onder die haweloses wat naby die stasie bly.
Die projek is gemik op voedselsekerheid en werkskepping vir haweloses.
Sanjeev Raghubir, hoof van volhoubaarheid en korporatiewe maatskaplike verantwoordelikheid by die Shoprite-groep, sê die groep ondersteun kleinskaalse boere deur hulle toe te rus om voedsel te kweek met aanpasbare landboupraktyke wat veerkragtig is vir klimaatsverandering.
“Markdag gee hulle ook die geleentheid om ’n alternatiewe inkomste te genereer deur hul varsprodukte direk aan die publiek by ons supermarkte te verkoop, en waardevolle kleinhandelervaring in die proses op te doen,” sê hy.
Landswye program
Kleinskaalse boere van ongeveer 50 gemeenskapsvoedseltuine reg oor Suider-Afrika sal op 16 Mei by uitgesoekte Shoprite- en Checkers-winkels aan hul markdae deelneem.
Vir die eerste keer sedert die bekendstelling van die markdag in 2017 sal van die gemeenskapsvoedseltuine wat die groep in Botswana en Namibië ondersteun, ook hul produkte na die mark bring.
Hongerverligting en voedselsekerheid is die kern van die groep se Act For Change-program wat meer as 230 voedseltuine en 4 000 tuistuine ondersteun – gesamentlik meer as 4,5 miljoen m², waarby ongeveer 60 000 begunstigdes indirek baat.
Die span by Ons Tuin bestaan uit vrywillige tuiniers uit die gemeenskap en sowat 10 haweloses.
“’n Paar uur se werk in die tuin is nie net goeie oefening nie, maar ook goed vir jou om vir ’n rukkie van jou probleme te vergeet en terug te staan om na jou handewerk te kyk. Ons Tuin help ons ook om nader aan ons Skepper te leef. Ons kan plant, maar Hy is die een wat dit laat groei,” sê Ettienne Pio van JiA.
Op Sondagmiddae word middagetes voorberei met produkte uit die tuin en ná ‘n kerkdiens aan haweloses voorgesit.
“Ons kon ook al verskeie kere die oeste aan ons 40 begunstigde organisasies, kerke, gemeenskappe en gesinne versprei.”
Sukses
Met die Shoprite-hoofkantoor in Brackenfell sê Pio dit was sinvol om die groep te nader om saam te werk in ‘n projek wat die plaaslike gemeenskap bevoordeel.
“Die meeste inwoners in Brackenfell ondersteun Shoprite en baie is ook reeds betrokke by die JiA-netwerk. Hoe meer besighede, kerke, organisasies en inwoners hande kan vat, hoe mooier is die getuienis van wat ’n gemeenskap kan bereik wat saamwerk vir ’n beter lewe.”
Hy voeg by dat die sukses van die tuin tot dusver inspirerend is.
“Ek dink ons sien net ‘n klein stukkie van die potensiaal wat Ons Tuin inhou. Dit gee my hoop dat ’n stuk dorre grond so omskep kan word.”





