Brackenfell-kleuter (1) verdrink op 30 Desember

Nikolai Skinner sou op 19 Januarie sy tweede verjaardag gevier het, maar in stede daarvan is hy op die dag voor Oujaarsdag dood in sy familie se swembad aangetref.


‘n Eenjarige van Proteahoogte in Brackenfell het Vrydag in sy gesin se
swembad verdrink terwyl hulle gereed gemaak het om op vakansie te gaan.

‘n Bron na aan die familie het aan TygerBurger bevestig dat Nikolai
Skinner se gesin besig was om te pak en bagasie in hul motor te laai vir die
vakansie.

“Hy was die mooiste, mooiste seuntjie en die laatlammetjie van Chantal
en Patrick. Sy twee ouer broers — Xavier en Daniel, die oudste — was mál oor
hom,” vertel die bron.

“Hulle was besig om te pak vir vakansie, en net vir daai kort tydjie
was die sekuriteitshekke na die swembad oop, want hulle moes deur hierdie hekke
gaan om goed in die kar te kan pak,” vertel sy.

“Ewe skielik kyk almal vir mekaar: Waar is Nikolai?”

Die bron vertel toe hulle Nikolai se lykie uit die swembad haal, “was
sy gesiggie al potblou”.

Sy vertel voorts: “Die familiehond, ‘n Duitse herdershond, was ook
sopnat, nou dink die familie miskien het die hond probeer om die seuntjie uit
te haal, maar niemand is seker nie.

“Nikolai se motorfietsie het nog daar eenkant teen die swembad gestaan.
Almal se harte is absoluut stukkend.”

You need to be Logged In to leave a comment.