Mayco member for urban mobility Rob Quintas

Inwoners in verskeie buurte in Brackenfell se Wyk 111 klim nou self in om die gebied mooi en skoon te hou te midde van wat hulle glo swak dienslewering is.

Nadia du Toit en haar man, wat ses jaar gelede in die buurt ingetrek het, het onlangs `n opheffingsgroep gestig in Bracken Heights, Edenpark en Ferndale om die buurte in stand te hou.

“In die laaste paar jaar het ons opgemerk dat die gebied nie meer goed in stand gehou word nie,” het Du Toit verlede week aan TygerBurger gesê.

“Die sypaadjies word nie gevee nie, en die gras groei oor die oppervlaktes wat dit moeilik maak vir voetgangers om te stap. Brandpark word nie behoorlik in stand gehou nie en as ons dit nie self doen nie, sal die openbare park vergaan. Die wandelpaadjies is stukkend en daar word niks daaraan gedoen nie,” sê sy.

Projekte begin goed, maar word nie voltooi nie, en so word belastingbetalersgeld gemors.

“Ons het gesien hoe belaglik baie geld daar bestee word om nuwe gras aan te lê, maar nou word daar geen besproeiing gedoen nie. Projekte begin goed, maar word nie voltooi nie, en so word belastingbetalersgeld gemors.

“Ons sukkel om die wykraadslid in die hande te kry, en dis maar hoekom ons dinge self begin doen. Hier is ‘n oop stuk grond waar ons self die gras sny. Ons weet nie aan wie die grond behoort nie en niemand word verantwoordbaar gehou om die gras te sny nie.

“Ook, waar die sand ophoop in die strate nadat gras wel by tye gesny word, vee ons dit self skoon en verwyder die modder in die wintermaande sodat die dreine nie verstop nie.”

Padoppervlak aan flarde

Du Toit sê die dinge word gereeld gerapporteer, maar niks word ooit gedoen nie. “Die sypaadjies is vuil en ek probeer al van Maart af die Stad sover kry om te kom skoonmaak. “In antwoord op ‘n e-pos na die burgemeester is daar vir my gesê daar is niks fout met die sypaadjies nie. Amptenare wou met my vergader, maar ek het niks weer van hulle gehoor nie.”

Die groep maak sesmaandeliks ‘n lys van straatligte wat nie werk nie, sowel as slaggate, wat hulle dan aan die Stad rapporteer.

“Maar selde sien ons dat iets gedoen word.”

Inwoners is ook bekommerd oor die benarde toestand van Brackenfell-boulevard tussen Frans Conradie-rylaan en die N1-brug, asook die gebreekte relings op die brug oor die treinstasie.

“Die padoppervlak is aan flarde en die padtekens het al so verbleik dat ‘n mens dit nie meer kan sien nie.”

Ferndalestraat, wat in De Waalstraat verander, sê sy, word geteister deur “rat-racing”, ‘n probleem waarop die Stad nie ag slaan nie. “Daar is al talle e-posse gestuur om spoedbulte vir dié pad aan te vra, maar vir ons word gesê die waglys is agt jaar lank.

“Ons almal betaal belasting, asook ‘n nuwe skoonmaakbelasting. Waarheen gaan die geld? Ons vra nie vir meer nie; net vir dit wat gedoen moet word, en dat dit ordentlik gedoen word.”

Onlangs het die groep ook versoek dat aandag geskenk word aan die onversorgde ingange na Bracken Heights en Edenpark.

“Ons sal graag `n boom of twee op die lelike, onversorgde hoeke wil sien,” sê sy.

Opknap van pad oor vyf jaar

In ‘n e-pos na die burgemeester, Geordin Hill-Lewis, skryf sy: “Ek skryf om `n saak rakende dienslewering in ons gebied by u te eskaleer. Ek het reeds vier keer aan u geskryf rakende hierdie saak. Kan u asseblief advies gee oor die gebrek aan reaksie wat ons in die wyk ondervind, asook die pad vorentoe met betrekking tot dienslewering?”

In reaksie op ‘n medianavraag het Rob Quintas, burgemeesterskomiteelid vir stedelike vervoer, gesê die krake in die sypaadjies sal deur die Stad se infrastruktuurbestuur ondersoek word.

“Onkruid op sypaadjies geniet ook aandag met die jaarlikse onkruidbespuitingsprogram,” sê hy.

“Ons is bewus van die toestand van Brackenfell-boulevard. Die opknap van die pad word beplan in samewerking met die toekomstige verdubbeling van dieselfde pad na ‘n vierbaan-dubbelbaanpad, wat sal inskakel met die voorgestelde nuwe N1-wisselaar, wat deur Sanral gebou sal word,” sê Quintas. “Daar word verwag dat dele van die bestaande pad herbou sal word terwyl ander dele opgeknap sal word.”

Op `n vergadering vroeër vandeesmaand het hy egter gemeld dat die opknap waarna hy in sy terugvoer verwys, oor `n periode van vyf tot agt jaar sal geskied.

You need to be Logged In to leave a comment.