Die Brackenfell-belastingbetalersvereniging is tans besig om regshulp te verkry, sowel as die steun van ’n burgerregte-aksiegroep om die gemeenskap in Ruwari by te staan in hul verset teen die ontwikkeling van die Stad Kaapstad se regeringsbehuisingskema in dié woongebied.
Die beplande ontwikkeling is aan die begin van November deur die burgemeester, Geordin-Hill Lewis, in die raad aangekondig as deel van sy prioriteitsprojekte.
Hill-Lewis het in sy toespraak aan die raad gesê dit sal ’n aanwins wees vir gesinne wat goed geleë bekostigbare behuising benodig.
Die eiendom, geleë in Affodilstraat langs die KFC-eetplek, is geoormerk vir die ontwikkeling van ongeveer 115 maatskaplike behuisingseenhede, 30 GAP- huise en kleinhandelruimte.
Honderde inwoners van Ruwari is egter gekant teen die ontwikkeling, wat hulle aanvoer eiendomswaardes in die gebied skerp sal laat daal.
In 59 amptelike besware het inwoners ook die tekort aan basiese dienste soos skole en infrastruktuur benadruk.
Die besware, sê hulle, is egter nie in aanmerking geneem nie.
Die vereniging het verlede week vergader om dié en ander aangeleenthede te bespreek.
André le Roux, mediaskakelbeampte, sê ’n openbare vergadering in dié verband sal binne die volgende twee weke gehou word.