Dit is reeds vier weke sedert kontrakteurs moes begin werk aan ’n nuwe ontwikkeling naby Fountain Village, maar hulle word deur die gemeenskap verhoed om te begin weens onbeantwoorde vrae.
Die gemeenskap, naby Blue Downs en langs Hindle-weg, sê hulle is nie in die ontwikkeling geken nie en het baie vrae wat nie deur die Stad Kaapstad beantwoord word nie. Van die besware wat die gemeenskap het, is dat ’n gemeenskapsdeelname-proses, wat deur wetgewing vereis word, nie gevolg is nie of alternatiewelik versin is.
Logan Kamaray, ’n inwoner wat namens die gemeenskap van Fountain Village praat, sê die gemeenskap is elke oggend omstreeks 07:30 by die gebied wat vir die Aloe Ridge-ontwikkeling geoormerk is om seker te maak geen werk word gedoen voordat die Stad of sy verteenwoordigers met hulle kom praat nie.
“Van die antwoorde waarna ons soek, is hoe gaan die ontwikkeling die waarde van ons eiendomme raak. Ons navorsing het ook gewys dat die ontwikkeling uit gedienste persele gaan bestaan, wat beteken mense moet self hul huise bou. Dit gaan beslis ’n invloed op die waarde van ons eiendomme hê,” sê Kamaray.
Veiligheid is ook ’n groot deel van die gemeenskap se besware omdat hulle voel hul buurt moet deur ’n heining van die nuwe ontwikkeling geskei word.
Volgens Kamaray het hulle in hul navorsing op verskeie ongerymdhede afgekom, wat hulle in ’n voorgenome skrywe aan die Stad aan die groot klok gaan hang. “Niemand kom praat met ons of neem die gemeenskap in hul vertroue nie. Daar word nie op een van ons skrywes ag geslaan nie, dus gaan ons ook nie sommer hierdie geveg los nie. Ons het bewyse en sal dokumente aanheg aan ons skrywe,” sê hy.
TygerBurger het ’n e-pos met vrae aan die plaaslike raadslid, Nkosiphendule Lombi, en die Stad Kaapstad gestuur, maar het teen druktyd nog geen terugvoering ontvang nie.