Richard Roberts
richard.roberts@novusmedia.co.za
Bouwerk is tans aan die gang op die oop stuk grond waar koperkabeldiewe verlede jaar herhaaldelik toegeslaan het.
TygerBurger het verlede jaar berig hoe diewe koperkabels, wat aan Eskom behoort, op die oop stuk veld gevandaliseer en verwyder het, en hoe inwoners in die nabygeleë Bothasig dae lank sonder elektrisiteit moes klaarkom, (“Kabeldiefstal ‘n probleem”, 23/10/24).
In daardie stadium het Mario Borchards van die Bothasig-inwonersvereniging voorgestel dat die koperkabels in betonhouers geplaas word, dat sekerheidsbeamptes aangestel word om die terrein te beveilig en dat die polisie die gebied meer moet patrolleer om die vandalisering of diefstal te voorkom.
In Oktober verlede jaar was Bothasig vir drie dae in donkerte gehul ná die vandalisering en diefstal van kabels.
Die wyksraadslid Miquette Temlett het ook haar misnoeë uitgespreek teenoor Eskom wat nie sy eiendom kan beskerm nie.
Die kantoor van die wykraadslid het verlede week bevestig dat die eiendom privaat besit word.
Volgens die kantoor word die gedeelte van die grond links van die N7-snelweg deur verskeie private entiteite en regeringsdepartemente besit.
Die gebied waar die bouwerk tans aan die gang is en die gedeelte naby die brug by Plattekloofweg is in seksies verdeel en word deur verskeie eienaars besit wat paaie-trustees en belegginigsmaatskappye insluit, volgens die kantoor.
Luthando Tyhalibongo, woordvoerder vir die Stad Kaapstad, het by navraag gesê ‘n bouplan vir ‘n sogenaamde “gatehouse” en ‘n 3 408 m²-pakhuis is op 7 Februarie vanjaar vir erf 36516 en ‘n gedeelte van erf 35270 goedgekeur.
“Die grond word privaat besit en ontwikkel,” sê Tyhalibongo.



You must be logged in to post a comment.