KAAPSTAD – Tientalle motorfietsryers het Maandag (13 Oktober) by die Bikers Church Cape Town in die Brackenfell-nywerheidsgebied byeengekom om hul laaste eer aan Aidan Joshua Ruge van Bothasig te betoon.
Die 19-jarige Aidan is op Sondag 5 Oktober oorlede nadat ´n sportsnutsvoertuig op die hoek van Boomstraat en Vryburger-rylaan, Bothasig, teen sy motorfiets gebots het. Hy is op die toneel dood. Sy passasier is met ernstige beserings in die hospitaal.
‘n Gedenkdiens is Maandag gehou.
Voordat die diens begin het, het ‘n groep motorfietsryers eers om 13:00 by die N1 Stad-winkelsentrum bymekaargekom en saam in ‘n konvooi na die kerk gery. Aidan se gedenkdiens het om 14:00 begin.
Die diens is deur Past. George Lehman waargeneem. ‘n Kers is ook deur sy ma, Anje Ruger, tydens die diens aangesteek.
Groot opkoms
Lehman het genoem dat die opkoms wonderlik was en dat dit spreek van hoe waardevol Aidan se lewe was. Hy het ook genoem dat Aidan in ‘n stadium in sy lewe die Here aangeneem het en ook by die Soldiers for Jesus-motorfietsklub aangesluit het.
“Teen die ouderdom van 19 jaar het hy al iets in sy lewe bereik. Aidan het altyd ‘n positiewe hart gehad,” het Lehman gesê.
As geestelike leier het hy gesê dit was vir hom ‘n voorreg om die diens te kon lei.
TygerBurger probeer nog vasstel of die bestuurder van die sportsnutsvoertuig, wat ná die ongeluk van die toneel af gevlug het, al opgespoor en moontlik in hegtenis geneem is.


