Vir baie mense is die goedhartigheid van ander al keuse en vir sommiges ’n lewenslyn.
Dit is ook die geval vir baie van die begunstigdes wat baat vind by die liefdadigheid van ’n Bothasig-welsynorganisasie, Locals Helping Locals.
Dié organisasie is nege jaar gelede in die lewe geroep deur Johanna Kotze (76) nadat sy die nood gesien het waarin party mense hulself bevind. Sedertdien het die organisasie gegroei met meer lede en ’n ondersteuningsbasis wat wyd strek.
By Johanna se huis in Leerdamstraat in Bothasig is die ondersteuning duidelik sigbaar. In byna elk kombuiskas is daar nie-bederfbare kos; in die tweedehandse winkel is daar klere, kombuisware en selfs speelgoed wat deur weldoeners aan die organisasie geskenk is. Daar is ook meubels en fietse op die erf, wat deur hulle herstel word en dan weer verkoop word sodat kos aangekoop kan word om hul 63 begunstigdes te kan voed.
Die begunstigdes, vertel Johanna, is meestal seniors in gebiede soos Bothasig, Edgemead en Richwood, wat van ’n maatskaplike toelae afhanklik is.
Johanna, wat al byna twee dekades in Bothasig woon, is onlangs vereer vir haar toegewydheid en werk in die gemeenskap.
Sy is by die onlangse BothasigBiz Women’s Day Celebration met die BothasigBiz Vrou van die Jaar-toekenning vereer.
“Maar dit gaan nie vir my oor die toekenning nie,” sê sy aan TygerBurger tydens ’n onlangse besoek aan die span se hoofkantoor.
“Ek was nooit een wat lief was vir winkels en inkopies nie; my man het dit altyd vir ons gedoen. Maar een spesifieke oggend was ek by ’n winkel in Bothasig. Toe ek daar kom, het ek twee oumense gesien. Hulle was verwaarloos en weerloos en het tussen die rakke deur beweeg.
“Hulle het van een rak na die ander geloop. Hulle het ’n pakkie sop geneem en dit in hul mandjie gesit. Ek het agter hulle by die kasregister gestaan.
“Die vrou het al haar kleingeld uit haar beursie gehaal en dit was nie eens genoeg vir die min goed wat hulle wou koop nie. Ek het dit vir hulle betaal,” vertel Johanna.
Sy het die egpaar se adres ook aangevra en so is die saadjie vir die idee vir haar welsynorganisasie geplant.
“Ons het vir hulle elke dag ’n brood en melk geneem. Hulle het ook hondekos gekort. Ek het die omstandighede gesien waarin hulle woon. Ons het hul huis skoongemaak – dit was ons heel eerste projek.”
Johanna het kort daarna ’n groep op sosiale media begin om mense in soortgelyke omstandighede te help. Vandag heet die welsynsgroep se leuse “Reik uit met liefde”.
Deesdae help Johanna en haar span die senior burgers by ’n tehuis in die gebied, sowel as ander in die woonbuurt. Daar word elke Dinsdag by haar huis kos voorberei, wat dan saans by die seniors afgelewer word. Daar is ook noodpakke wat aan gesinne geskenk word wat in nood verkeer, sê Johanna.
Hulle werk ook nóú saam met ander welsynorganisasies, waarvan een in Robertson, Montagu en Ashton werk.
Raadslid prys Johanna
Miquette Temlett, wyksraadslid, het ook vir Johanna geprys vir die werk wat sy doen. “Haar positiewe houding, harde werk en bereidwilligheid om altyd die ekstra myl te loop, word opreg waardeer. Locals Helping Locals is ’n organisasie wat se vrygewigheid ’n voorbeeld vir ons almal stel.”
Temlett het ook ander vroue wat aan die geleentheid op Vrouedag deelgeneem het, gelukgewens.
“Dit was ’n heerlike geleentheid wat vroue in ons gemeenskap bemagtig, verhef en vereer. Ek was bevoorreg om daar te kon wees en die toekenning aan Johanna te kon oorhandig.
“Ek wil elke vroue-entrepreneur, versorger en gemeenskapsorganisasie in Wyk 5 gelukwens vir die wonderlike werk wat hulle in die gemeenskap doen, veral Johanna vir haar toegewydheid, tyd en moeite wat ’n groot impak het op die wyk en sy mense,” sê Temlett.
Locals Helping Locals word ondersteun deur ’n reeks donateurs, insluitend SA Water Warriors, Dare to Share, Rescue Among Many en Tygerberg Meals on Wheels in Parow.
Sommige van die donateurs is ook anoniem, sê Johanna.
Lede van die publiek is welkom om nie-bederfbare kos, toiletware, komberse en klere aan die organisasie te skenk.
Stuur ’n e-pos na localshelpinglocals111@gmail.com.


