Bothasig-inwonersvereniging en Milnerton-polisie byeen oor kabeldiefstal

Ná ’n reeks voorvalle van kabeldiefstal het die Bothasig-inwonersvereniging (BRA) onlangs met die Milnerton-polisie, onder wie die gebied langs die N7 snelweg val waar die kabels dikwels gevandaliseer word, vergader.


Ná ’n reeks voorvalle van kabeldiefstal het die Bothasig-inwonersvereniging (BRA) onlangs met die Milnerton-polisie, onder wie die gebied langs die N7 snelweg val waar die kabels dikwels gevandaliseer word, vergader.

Verlede maand was groot dele van Bothasig vir byna drie dae sonder krag nadat kabeldiewe elektriese kabels by die perseel naby die N7 en Plattekloof-weg gesteel het. Eskom het die kabels herstel. Die gebied is egter kort daarna weer geteiken, hoewel die krag dié keer nie so lank af was nie.

Mario Borchards, BRA-voorsitter, het verlede week aan TygerBurger gesê dat hulle op Dinsdag 12 November met twee lede van die Milnerton-polisie vergader het om te praat oor hul pogings om die gemeenskap teen voorvalle van kabeldiefstal te beskerm.

Sleutelpunte

Een van die sleutelpunte wat bespreek is, sluit in gereelde patrollies. Die polisie sal voortgaan om gereelde patrollies in die hoërisiko-gebiede uit te voer, met die oog op sigbaarheid.

Verder sluit dit ook in ’n samewerkende patrollie-stelsel.

Die polisie en inwonersvereniging probeer ’n rooster hierdeur saamstel met ander veiligheidstrukture in die gemeenskap, om dekking van die gebied en reaksietyd te verbeter.

Die perseel langs die N7-snelweg waar kragkabels onlangs gevandaliseer en gesteel is. Die kabels voorsien krag aan Bothasig.FOTO: Richard Roberts

Laastens sluit die sleutelpunte ook in die versterking van die gemeenskap se veiligheid. Deur nóú saam met die polisie te werk, bly die gemeenskap daartoe verbind om sigbaar en proaktief teen kabeldiefstal op te tree, sê Borchards.

Stappe om kabels te beskerm

“Sedert die patrollies geïmplementeer is, is daar nog geen voorvalle van kabeldiefstal aangemeld nie. Bykomend daartoe het Eskom ook sekuriteitspersoneel ontplooi om die gebied te patrolleer,” sê hy.

Die Milnerton-polisie het ook aangedui dat hulle die raffinaderye sal nader om toegang tot hul kringtelevisie te versoek vir bykomende ondersteuning, sê hy.

Borchards sê ook die polisie het voorgestel dat Eskom maniere moet oorweeg om kabeldiefstal vir voornemende diewe moeiliker te maak.

“Die inwonersvereniging sal voortgaan om gereeld vergaderings te hou om sodoende op hoogte te bly, om vordering te hersien en om kommunikasie te onderhou,” sê Borchards.

Bystand

Neal de Wit, eienaar van Precinct Response, sê tot dusver was hulle al maatskappy wat reeds veelvoudige inhegtenisnemings in die Bothasig-polisiëringsgebied uitgevoer het in verband met kabeldiefstal. “Ons is proaktief in die geveg teen kabeldiefstal.”

Hy sê dis nie maklik vir die polisie om die stryd alleen te stry nie, terwyl die gemeenskap sonder krag moet klaarkom. Hy sê die maatskappy spring ook gereeld in om die gemeenskap te dien tydens dié voorvalle deurdat hulle kragtoevoer vir seniors help reël om hul selfone gelaai en hul medisyne koud te hou.

Daar is ook met behulp van ander plaaslike ondernemings gas gereël wat gebruik sal word om water warm te maak, en kos te laat kook vir seniors, die mees kwesbares, sê De Wit. “Ons sal voortgaan om die stryd te stry en sal ook voortgaan om hulp te verleen,” sê hy.

You need to be Logged In to leave a comment.