Inwoners van Bothasig is die afgelope naweek weer gedwing om sonder krag klaar te kom, nadat nóg kabels daar gevandaliseer is.
Die gebied is die afgelope twee weke deur kragonderbrekings geteister nadat kabels langs die N7, oorkant die woonbuurt, gesteel en gevandaliseer is.
TygerBurger het twee weke gelede berig oor die eerste voorval (“Bothasig heel naweek sonder krag”, 16/10) en weer die week daarna (“Kabeldiefstal ’n probleem”, 23/10).
Mario Borchards, voorsitter van die Bothasig-inwonersvereniging (BRA), het tydens ’n onlangse besoek saam met TygerBurger aan die terrein gesê dat die polisie die gebied meer moet patrolleer en dat Eskom sy eiendom moet beskerm deur ’n heining op te rig en sekerheidsbeamptes aan te stel.
LEES | Kabeldiefstal langs N7 in Kaapstad ’n probleem
Eskom het Saterdag in ’n verklaring gesê dat voorvalle van vandalisme en ’n oorlaaide kragnetwerk, wat tot verskeie probleme op sy netwerk gelei het, sowat 16 000 klante in onder meer Bothasig sowel as Kraaifontein geraak het.
Die kragvoorsiener het inwoners egter daarvan verseker dat sy tegnici aan die probleem werk, en dat die kragtoevoer spoedig herstel sou word.
In ’n daaropvolgende verklaring het Eskom gesê die kragtoevoer sou eers Saterdag om 19:00 herstel word.
BRA reageer
Borchards het dié week weer sy misnoeë oor die vandalisme uitgespreek.
“ ’n Bron van kommer is dat die gebied waarin die kabels gevandaliseer is, in die Milnerton-polisie se polisiëringsgebied val, wat nie die omgewing doeltreffend patrolleer nie.
“Die kabels is geleë in ’n kwesbare omgewing, wat dit maklik maak vir misdadigers om dié soort diefstal te pleeg.
“Die tekort aan patrollies verhoog die risiko vir verdere voorvalle van kabeldiefstal,” sê Borchards.
Hy sê in die laaste voorval is ’n gedeelte van ’n kabel vroeg Saterdag, omstreeks 01:30, gesteel. Die krag is eers om 20:00 weer herstel, sê hy.
LEES | Bothasig hele naweek sonder krag
Volgens hom het die kragonderbreking groot ontwrigting vir inwoners veroorsaak. “Twee weke gelede was dieselfde deel van Bothasig vir drie dae af. Dit raak nou belaglik,” sê hy.
Borchards sê die herhaalde kragonderbrekings laat inwoners gefrustreerd en kwesbaar voel.
Tog is die BRA meegedeel dat Eskom sekerheidsbeamptes in die spesifieke gebied aangestel het om misdadigers te ontmoedig, sê hy.
Die BRA het reeds die Bothasig-polisie en sekerheidsfirmas in die gebied geraadpleeg om ’n strategie daar te stel om die kabeldiefstal te stop.
Eskom het klante Saterdag om verskoning vir die ongerief gevra.
- Inwoners kan verdagte aktiwiteite wat met diefstal en die vandalisering van elektriese infrastruktuur verband hou, by die owerhede aanmeld of Eskom se misdaadnommer by 0800 11 27 22 skakel.


