“Die afgelope jaar was ’n positiewe jaar.”
Só beskryf lt.kol. Jeremy Pieterse, bevelvoerder van die Bothasig-polisie, sy eerste jaar in dié pos. Pieterse is op 2 November 2022 ingelig oor sy aanstelling hier en het op 1 Desember 2022 vir diens aangemeld.
In Februarie vanjaar het TygerBurger berig dat Pieterse ’n ervare lid van die polisie is, met byna drie dekades se diens agter die rug. In Januarie 2024 spog hy met 30 jaar diens.
“ ’n Mens neem dit maar dag vir dag. Enige plek het sy uitdagings, soos in ons geval die N7-snelweg,” het hy verlede week in ’n onderhoud by sy kantoor oor sy eerste 11 en ’n half maande gesê.
Pieterse was voorheen die hoof by die Bonnievale-polisiekantoor in die Boland. Hy het dié pos van Desember 2020 tot November 2022 beklee. Hy het gesê hoewel die kantore en hul mense verskil, is daar protokolle in die polisiediens waarvolgens ’n polisiekantoor en sy personeel bestuur moet word.
Vennootskap
In Bothasig, waar hy, sy vrou en twee kinders ook woon, is daar ’n goeie werkverhouding tussen die polisie, die breë gemeenskap, die buurtwagte en gemeenskapspolisiëring. Hy sê die verhouding is suksesvol, iets wat hy nie genoeg kan oorbeklemtoon nie.
“Ons ontvang inligting van die private sekerheidsmaatskappye in die gebied, hulle help ons baie,” het hy gesê.
Daar word ook gereeld vergadering gehou met alle rolspelers in die polisiëringsgebied, wat Bothasig, Edgemead, Richwood, Kleinbosch en ’n deel van die N7 insluit.
“ ’n Mens kan nie net op die negatiewe fokus nie, ’n mens moet positief bly. Dit was ons doen is nie net ’n normale werk nie, maar ’n roeping,” het hy gesê. Dit is ook die boodskap wat hy onder sy personeel meedeel.
Pieterse sê hy glo aan ’n oopdeur-beleid en dat enige van sy personeellede by hom kan aanklop om hulp, of advies – van die skoonmaker tot die kapteins. “As enigiemand ’n probleem het, my deur is altyd oop. Hulle kan kom en met my gesels. Ek wil hê die personeel moet weet waar hulle met my staan. As hulle dus ’n probleem het, kan ek hulle altyd help om dit op te los, en as ek nie kan nie, kan ek hulle help met advies. Ek sê altyd, ek kan by ’n konstabel ook leer. ’n Mens is nooit te oud om te leer nie,” het hy gesê.
Een van die algemene misdade wat gereeld hier aangemeld word, is eiendomsverwante misdaad. “Dit wissel, soms neem dit toe, ander tye neem dit af.”
Uitdagings
Pieterse sê hy is bewus van die uitdagings, sowel as die klagtes van die publiek oor ’n tekort aan polisiebeamptes en hulpbronne. “Mense en voertuie is twee belangrike faktore, maar ‘n mens moet werk met wat jy het. Ons kan nie verskonings soek nie. Ons hoofdoel is om die gemeenskap te dien. “To protect and to serve,” het hy gesê.


