Boston-rower vas ná jaagtog

Die man (32) is op vier aanklagte van gewapende roof gearresteer.


Polisie in Bellville het vanoggend (Dinsdag) ’n rower ná ’n dolle jaagtog vasgetrek.

Die man het omstreeks 11:30 vier vroue in 10de laan Boston met ’n speelgoed-vuurwapen gedreig, vertel lt. kol. Fienie Nimb van die Bellville-polisiekantoor.

Hy is met twee selfone en ’n iPad vort.

“Die vroue het net daarna ’n polisievoertuig gesien en ’n beskrywing van die rower gegee asook die rigting waarin hy gevlug het. Die polisie het in daardie rigting gery.”

Intussen het ander polisiebeamptes in ’n ongemerkte voertuig die gebied gepatrolleer toe hulle ’n verdagte man in 8ste Laan gewaar. Die polisie het hom gevolg.

“Die man het ’n paar keer oor sy skouer gekyk en skielik begin hardloop.”

Versterkings is ingeroep en verskeie polisielede is te voet agterna om die verdagte op te spoor.

Die polisielede het oor sowat ses huise se mure gespring voordat hulle die verdagte in ’n agterplaas aangetref het.

Die man (32) is op vier aanklagte van gewapende roof gearresteer.

’n Speelgoedgeweer, die twee selfone en iPad is in sy besit gevind.

Die man, wat ’n kriminele rekord het, sal binne die volgende paar dae in die Bellville-landdroshof verskyn, het Nimb bevestig.

You need to be Logged In to leave a comment.