KAAPSTAD – ‘n Man na wie die Wes-Kaapse polisie vir byna twee weke gesoek het in verband met ‘n seksuele oortredingsaak is Woensdag 8 Oktober in hegtenis geneem nadat hy glo homself aan die owerhede oorhandig het.

Sers. Wesley Twigg, provinsiale polisiewoordvoerder, sê die verdagte, Adam Edwards, het Donderdag 9 Oktober in die Goodwood-landdroshof verskyn waar borgtog teengestaan is. Sy saak word deur die polisie se eenheid teen gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele oortreding (FCS) ondersoek. Dit volg nadat ‘n saak teen hom in Augustus by die Bothasig-polistasie geregistreer is.

Edwards, ‘n voormalige onderwyser by Riverside College, ‘n privaatskool in Burgundy Estate, was sedert Vrydag 25 September soek, en ‘n lasbrief vir sy inhegtenisname is deur die hof uitgereik.

In ‘n verklaring wat deur Riverside College uitgereik is en op hul sosiale mediablad gedeel is, word daar aangedui dat Edwards nie meer in diens van die skool is nie. Daar word ook genoem dat die skool ‘n interne ondersoek gedoen het en dat hulle kan bevestig dat die voorval nie ‘n kontak-misdaad is nie, maar eerder dat die aantuigings verband hou met die beweerde besit van intieme persoonlike foto’s.

Die skool sê hy werk nou saam met die polisie en sy ondersoek.

You need to be Logged In to leave a comment.