Dit gaan vir Enrico Hartzenberg ’n “ikoniese” gebeurtenis wees om sy teaterstuk, Vloeibare moed, in sy gemeenskap te sien afspeel.
Die 26-jarige boorling van Sarepta wil bars van opgewondenheid.
Hy kan skaars wag vir Maandag 5 Desember, wanneer die produksie by die Hoërskool Sarepta opgevoer gaan word.
“Dit is oop vir die gemeenskap om te kom kyk. Ons verwag 300 mense. Al is dit meer, ons maak ’n plan. Dit is gratis.”
Enrico is ’n kreatiewe siel wat as kind die stoep van sy grootwordhuis sy verhoog gemaak het. Dans was sy eerste liefde, maar hy is ook skrywer, vervaardiger, akteur en die eienaar van Hartzenberg Films.

Dié oudleerder van die Laerskool Sarepta en die Hoër Tegniese Skool Bellville het ’n bestuursdiploma aan die Boland Kollege behaal voordat hy van 2018 tot 2020 aan die Universiteit van Kaapstad (UK) vir ’n diploma in teaterkuns (Theatre and Performance) gestudeer het.
Sy debuuttoneelstuk, Liefde is rooi, is in 2018 by die US Woordfees opgevoer.
Vloeibare moed, wat handel oor geslagsgeweld, het in Junie by die Kunstekaap-teater gedebuteer en was in September by die Universiteit Stellenbosch op die planke.
Danksy ’n aanbeveling van ’n lektor aan die US het die provinsiale gesondheidsdepartement Enrico genader om die stuk tydens die jaarlikse 16 Dae van Aktivisme vir Geen Geweld teen Vroue en Kinders van 25 November tot 10 Desember na gemeenskappe te neem.
Grusaam vermoor
Enrico het in 2019 die gedenkdiens op kampus vir Uyinene Mrwetyana, ’n 19-jarige student aan die UK, wat grusaam vermoor is, bygewoon.
Terug in sy koshuiskamer is hy in sy gedagtes gekonfronteer met ’n stelling en ’n vraag.
“As ’n navorser en skrywer het ek besluit om self te gaan kyk waarvandaan dit (geslagsgeweld) kom.”
Enrico sê hy het toe reeds ’n “mind map” vir die storie gehad, maar dit het tydens die inperking in 2020 bymekaargekom.
“Toe ek in lockdown hier in my kamer lê (hy lê van kleins af graag op die grond), toe kom die woorde en die hele scene van Uyinene weer in my kop.”
Hy sê in die tyd kon hy baie stemme in die gebied hoor.
“Die stemme van die karakters – innocence versus guilt. Ek kon hoor hoe ouers op die seuns skel. Dis waar ek toe begin skryf het.”
Hy haal die woorde van een van die karakters aan: “Die werklikheid oor die werklikheid is dat die werklikheid ’n metaforiese konsep is. Ons almal leef in die vertellings van ons eie stories,” sê Enrico.
“Jou storie is ’n werklikheid vir jouself.”
Dit was vir hom belangrik om agtergrond oor die karakters te gee.
“Ons moet verstaan waarvandaan hulle kom.
“My artistic besluit om drie of vier bruin seuns van different environments op stage te sit, was nodig.
“Ek bly in die Kaap en deel van my navorsing was om ook te kyk wat gebeur in die klein dorpies.”
Die stuk gaan oor vier seuns wat pas op universiteit begin het. Een word dan van ’n geslagsmisdaad aangekla.
“Dit is vier seuns wat kom om te swot en skielik (verander alles met) een WhatsApp-boodskap wat sê daar’s ’n party…
“Ek wil hê mense moet sien die play gaan oor meer as GBV – dis ook oor brotherhood, varsity culture, self-love, peer pressure.”
Hy sê ouers sal ook insig kry in wat als op universiteit gebeur.
“Studeer is maar ’n klein deeltjie – ask me! Ek het baie groot geskrik toe ek by UCT kom. Ek was like: ‘is hier ’n party onder my res-kamer?’”
Enrico is ingenome dat die produksie ’n vroulike regisseur het. “Iman Isaacs is al ’n ou hand in die teaterbedryf. Sy is my gunstelingregisseur. Sy skep ’n ikoniese beeld deur net vier beddens te gebruik.”
Reaksie
Dit was veral die terugvoer wat hy ná die opvoerings op Stellenbosch se kampus gekry het, wat hom geraak het.
“Ek het ’n bietjie gehuil ook. ’n Sielkundige by die universiteit het gesê ’n ouer het haar gebel en gevra hoe kan dit wees dat haar kind van ’n misdaad aangekla word? Die kind is nie so grootgemaak nie.”
Hy sê dit is juis wat Vloeibare moed vertel – dat ouers nie kinders as misdadigers grootmaak nie, maar ander faktore in ons samelewing ook ’n rol speel.
“Ek voel ’n ouer kan net soveel doen. Soms kan ’n vinger wel na die ouers gewys word, maar die probleem moet van alle kante bekyk word,” sê Enrico.
Inspirasie
Toe hy die kontrak met die gesondheidsdepartement gaan teken het, was daar trane van dankbaarheid. “Want ek is nog jonk en die goed wat ek doen. My inbox is altyd vol van kinders wat vra hoe doen ek dit?”
Hy is bewus dat hy vir die kinders van sy gemeenskap ’n inspirasie is.
Hy het hard gewerk om te bereik wat hy reeds bereik het. Al kyk mense op na hom, wil Enrico sien dat ander jongmense hulself steeds met hom kan vereenselwig.
“Wanneer jy sien iemand van jou ouderdom vaar goed, dien dit as inspirasie. Dan sê jy: As hy dit kan doen, kan ek ook.”
Sy raad vir die jeug is: “Weet wat jy wil hê, want dit gee rigting aan jou lewe. Wat ook al jy begeer en opreg in glo en met entoesiasme aan werk, moet jou kant toe kom. Jy het daardie droom in jou kop; jy weet wat jy wil hê. Dan moet jy navorsing doen oor daardie een ding wat jy so graag wil hê sodat jy weet waarna toe om te gaan en met wie om te praat.”
Dis vir hom belangrik dat jongmense en kinders se stemme gehoor word. “As ons aandag gee aan wat hulle sê, is daar groter kans vir verandering.”
“Ek love dat kinders nou begin uitkom met die goed waarmee hulle deal.” Hy hoop dat Vloeibare moed nog vele gesprekke sal aanwakker.
“In Stellenbosch was daar gesprekke (na die vertonings) waar die verskillende huise met mekaar gepraat het. Hulle wil die play weer terug hê volgende jaar om vir die eerstejaars te wys.”
Om sy teaterstuk na die gemeenskap te kan bring – boonop in sy verjaarsdagmaand – is vir Enrico ’n groot geskenk. Hy wens sy ouma, wat hom altyd aangemoedig het en wou weet: “wanneer bring jy jou werk hiernatoe my kind?”, kon dit nog beleef, maar hy weet sy ma is “baie trots”.
“Ek doen dit nie net vir die gemeenskap nie, maar ook vir my familie,” sê hy.
Die vertoning begin om 18:30. Die rolverdeling is Lyle October (Sherwyn), Gershwin Mias (Dean), Marunzo Thomas (Dillon) en Johnty Isaacs (Randall).



You must be logged in to post a comment.