Die plan is om Bonteheuwel terug te neem vir Bonteheuwel.
Só sê Winston Zeederburg van die Bonteheuwel Sport-groepering, wat onlangs die eerste interskole-atletiekbyeenkoms sedert 1966 in die voorstad aangebied het. “Verskeie faktore het daartoe bygedra dat geen skolesport al die jare hier aangebied word nie, maar een van die redes is omdat Bonteheuwel as ’n rooi sone beskou word. Ander skole wil nie hier deelneem nie uit vrees dat hulle aangeval sal word. Ons moes voorheen ons byeenkomste by ander sportvelde aanbied, maar met die koms van die Covid-19-pandemie het daardie geleenthede ook weggeval,” sê Zeederburg.
Vanjaar het hulle besluit om ’n atletiekbyeenkoms in die gemeenskap, vir die gemeenskap se kinders, aan te bied. “Ons het besluit om die Metropolitan-sportterrein vir ons byeenkoms te gebruik. Meer as die helfte van die laerskole in Bonteheuwel het deelgeneem en die hele dag was ’n reusesukses. Ons is baie bly dat die kinders weer ná twee jaar aan sport kon deelneem, maar is ook uitsonderlik dankbaar dat ons weer kon wys dat Bonteheuwel meer as net ’n bende-paradys is,” sê Zeederberg.
Hy reken hierdie byeenkoms is net die begin van groter dinge wat hulle beplan. “Ons wil nou die terrein só regruk dat in die nabye toekoms ander sportsoorte ook in Bonteheuwel aangebied kan word. Die kinders verdien dit en Bonteheuwel verdien om ander skole in tuiswedstryde te ontmoet. Dit kan net tot groter trots by die kinders lei,” sê Zeederberg.
Zeederberg het Angus Mckenzie, die plaaslike raadslid, bedank vir sy bydrae tot die atletiek, asook ander gemeenskapslede wat bygedra het.


