Bome is verlede week in Klipkop in Parow-Oos geplant om dié gebied te versier.
Vish Mathura, voorsitter van die Klipkop-buurtwag, sê die buurtwag en gemeenskapslede het op Woensdag 5 Oktober met die plaaslike wyksraadslid, Jacoline Visser, aan die boomplantery in die gebied deelgeneem.
“Ek is ten volle daarvan bewus dat die bome wat op die oop ruimte geplant is nie almal se goedkeuring wegdra nie, maar die Stad Kaapstad het ’n versoek ontvang om die area te vul met bome en ons het so gemaak,” sê Visser.
“Die nuwe bome dra reeds by tot die estetiese waarde van die omgewing en gaan ’n besonderse bydrae lewer om erosie te verminder, die groot hoeveelhede koolstofdioksied uit die atmosfeer te verwyder en ons van suurstof te voorsien. Die gemeenskap kan net baat vind by die aanplant van bome.
“Elke gemeenskap het ’n verantwoordelikheid om respek vir bome te hê en na hulle om te sien. Inwoners het reeds beloof om van tyd tot tyd die bome nat te lei om sodoende te help dat die bome floreer. Ek sien uit om die bome te sien grootword,” sê Visser.
Op Saterdag 1 Oktober het die buurtwag en gemeenskapslede met amptenare van die Stad ook huisnommers in die gebied aangebring. Geordin Hill-Lewis, burgemeester, en JP Smith, burgemeesterskomiteelid vir veiligheid en sekerheid, het ook die geleentheid ondersteun, sê Mathura.


