Bomdreigement by Tygervallei-sentrum veroorsaak swaar verkeer in Bill Bezuidenhout-rylaan

Chaos het in gure, nat weer geheers en swaar verkeer veroorsaak by die uitgange van die Tygervallei-sentrum in Bill Bezuidenhout-rylaan vandag (Vrydag 6 Desember) na ’n bomdreigement teenoor die sentrum gemaak is.


Chaos het in gure, nat weer geheers en swaar verkeer
veroorsaak by die uitgange van die Tygervallei-sentrum in Bill
Bezuidenhout-rylaan vandag (Vrydag 6 Desember) na ’n bomdreigement teenoor die
sentrum gemaak is.

Besoekers aan die sentrum sê druk verkeer by beide die in-
en uitgange van die sentrum het ontstaan soos mense dringend in hul motors
geklim en die sentrum in vrees verlaat het.

Waarskuwings oor die insident is wyd oor WhatsApp-groepe en
Facebook-blaaie versprei.

Bellville-polisie se woordvoerder, lt.kol. Fienie Nimb het
die voorval bevestig en vertel TygerBurger dat van hul lede toevallig
reeds by die sentrum was om feesgety-patrollies uit te voer toe ontruimings
aangekondig is.

“Bellville-polisielede was reeds binne die
Tygervallei-sentrum om patrollies uit te voer toe die sentrum se
veiligheidswagte mense rondom die kosgebied en OTM-seksie begin ontruim het. Dit
is nog nie duidelik hoe die bomdreigement aan die sentrum gekommunikeer is nie,
maar ontruimings weens die dreigement is omstreeks 12:00 oor die sentrum se
luidsprekers aangekondig,” het Nimb bevestig.

Sy sê nóg polisielede, die polisie se honde- en bomeenhede
is reeds na die toneel ontbied.

LEES MEER | Bellville ‘veilig verklaar’ na ‘n reeks bomdreigemente

Nimb het omstreeks 13:30 gesê: “Ondersoek word nog ingestel
om die bron en omstandighede van die bomdreigement by die sentrum vas te stel.
Die gebied is op die huidige stadium nog nie veilig verklaar nie.”

Dringende navrae is aan die bestuur van die
Tygervallei-sentrum gerig om meer besonderhede te bevestig. Volgens Aletta van
Wyk, bemarkingsbestuurder, was daar geen insidente nie en is die sentrum
suksesvol ontruim.

Geen beserings of nootlotige gevalle is dusver aangemeld
nie.

You need to be Logged In to leave a comment.