‘Bom’ glo in Parow se sakekern gevind

´n Verdagte voorwerp wat soos ’n bom gelyk het, het die afgelope naweek paniek gesaai onder inwoners van Parow.


´n Verdagte voorwerp wat soos ’n bom gelyk het, het die afgelope naweek paniek gesaai onder inwoners van Parow. Die voorval is op Saterdag 8 Februarie by ’n gebou op die hoek van Voortrekker- en Ryanweg, Parow – naby die munisipale gebou – aangemeld.

Op ’n foto wat aan TygerBurger gestuur is, kan gesien word hoe beamptes van die Stad Kaapstad se wetstoepassingseenheid die gebied afsper terwyl omstanders saamdrom.

Shakir Smith, uittredende voorsitter van die Parow-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), sê die pad was afgesper en dat die wetstoepassingseenhede en polisie op die toneel was. Die bomeenheid is ook ontbied, sê hy.

Hy het agterna gesê die voorwerp was ’n gebruikte handgranaat.

TygerBurger wag nog op kommentaar van die polisie.

Wayne Dyason, woordvoerder van die Stad se wetstoepassingseenheid, het intussen bevestig dat lede van die publiek van hul beamptes by dié eenheid se gebou in Tallentweg, Parow, die betrokke dag om 12:44 in kennis gestel het oor ’n moontlike bom.

Hy sê die beamptes het ’n sak in ’n gebou geïdentifiseer en die nuus by die polisie aangemeld, wat op hul beurt die bomeenheid ontbied het. “Daar is bevind dat daar ’n rookgranaat binne-in die sak was, wat reeds gebruik was en daarom geen bedreiging vir die publiek of die beamptes ingehou het nie,” sê Dyason.

Die Voortrekkerweg-korridorverbeteringsdistrik (VRCID) het aangedui dat die gebied buite sy reikwydte val. Die wyksraadslid, Roger Cannon, het ook laat weet dat hy nie oor die voorval in kennis gestel is nie.

You need to be Logged In to leave a comment.