Leerders van die Laerskool Parow-Noord is vandag vroeg huis toe gestuur nadat ’n bomdreigement ontvang is.
Kapt. Kevin Williams, woordvoerder van die Parow-polisie, het bevestig dat die bomdreigement deur die skool ontvang is.
“Die bomeenheid het die skool besoek om ondersoek in te stel. Die skool is deursoek, maar geen bom is gevind nie. Die kinders is uit hul klasse verwyder terwyl die ondersoek aan die gang was. Die leerders is teen 14:00 huis toe gestuur,” het Williams gesê.
Manu Moodley, voorsitter van die skool se beheerliggaam, het ouers versoek om hul kinders goed dop te hou oor die langnaweek, want vir baie van hulle was dit ’n traumatiese ervaring.
“Roger Cannon, voorsitter van die Parow-gemeenskapspolisiëringsforum, het die stasiebevelvoerder, kol. Ginsberg Dyanti, gekontak, maar iemand anders het hom voorgespring en ‘n polisievoertuig was toe alreeds na die skool gestuur,” het Williams gesê.
Die leerders en personeel sal Dinsdag berading ontvang.
Dit is onduidelik in hierdie stadium of dit ‘n fop-oproep was, maar ondersoek word ingestel, het hy gesê.