Boelies moet nou ligloop vir Wayde

Eers het die oud-Kraaifonteiner Wayde van Niekerk die wêreld laat regop sit toe hy internasionale atletiekrekords laat spat het, en nou gaan hy sy stem laat hoor in ’n internasionale veldtog teen boelies.


Eers het die oud-Kraaifonteiner Wayde van Niekerk die wêreld laat regop sit toe hy internasionale atletiekrekords laat spat het, en nou gaan hy sy stem laat hoor in ’n internasionale veldtog teen boelies.

In samewerking met Cartoon Netwerk South Africa en Childline, het Wayde Vrydag dié netwerk se Be a Buddy not a Bully-veldtog van stapel gestuur.
Die inisiatief skop af op 7 Mei op DStv se kanaal 301, met ’n program waarin Wayde sal verskyn, sowel as ’n oorspronklike animasiereeks wat die sienswyses van die boelie, sy slagoffer en omstanders aanspreek.

“Ek weet alte goed hoe dit voel om geboelie te word en daarom het ek gespring vir die kans om by die veldtog betrokke te raak. Met die veldtog wil ons kinders leer om ’n vriend te wees, nie ’n boelie nie. Boeliegedrag is nie aanvaarbaar nie en daar is niks verkeerd daarmee om vir hulp te vra nie. Om op te staan en te praat is die eerste stap om dinge beter te maak,” sê Wayde.

Die inisiatief sal veral daarop toegespits wees om bewustheid onder kinders te skep en om hulle te bemagtig om op te tree teen boelies.

Op hul beurt sal Childline die anti-boelie-boodskap versprei deur middel van video’s om kinders en volwassenes met advies in vier tale te voorsien – Sotho, Zoeloe, Engels en Afrikaans.

Die beste eienskap van die veldtog is die toegewyde aanlyn-platform waar kinders wat direk of indirek deur boelies geaffekteer word, dadelik toegang kan verkry tot professionele advies en ondersteuning.

Volgens Dumisile Nala, hoof- uitvoerende beampte van Childline, bly boeliegedrag ’n groot bekommernis in Suid-Afrika.

“Daar word beraam dat sowat 35% van alle kinders in een of ander stadium geboelie word – nie net op die speelterrein nie, maar dit volg hul 24/7 waar hulle ookal gaan, selfs tot op sosiale media-platvorms. Dit is gewetenloos en hou nie sommer op nie,” sê hy. “Vir party kinders voel dit asof daar geen wegkomkans is nie, wat tot erge angs en depressie kan lei,” sê hy.

“Dit is so belangrik dat ons as ouers en volwassenes na ons kinders luister en hulle bystaan indien hulle die slagoffer van ’n boelie is.”

Pierre Branco, besturende direkteur van Turner Africa, sê Cartoon Network South Africa voel baie sterk oor die feit dat die meerderheid van hul gehoor deur boeliegedrag geraak word.

“Ons is verheug daaroor dat ons hierdie baie tasbare krisis saam met Wayde en Childline kan aanpak,” sê hy.

Vanaf Maandag 2 Mei kan kinders die webtuiste vir raad en bystand.

You need to be Logged In to leave a comment.