Andrea Salomo van Silversands vlieg vandag, Woensdag, na New York waar sy saam met die African United Youth Orchestra by die World Orchestra Week Festival gaan optree.
TygerBurger het op 6 Junie berig oor Salomo wat haar talent met die hobo-blaasinstrument in die wêreldbekende Carnegie Hall gaan uitstal.
Salomo kan haar opgewondenheid nie meer beteuel nie. “Noudat die vertrektyd hier is, is ek baie opgewonde. Ek loop nou die heeltyd met ’n glimlag op my gesig. My voorbereiding het goed afgeloop en ek dink ek is gereed, want ek het vroeg begin. Vir nou sien ek daarna uit om musiek te maak, en dit op ’n internasionale verhoog,” sê sy.
Salomo sê sy is so dankbaar vir hoe haar gemeenskap en die lidmate van haar kerk, die VGK Silversands, haar geldinsamelingsprojekte ondersteun het.
Sy het vir weke aaneen koesisters, bunny chows en ander wegneemetes verkoop om haar kostes te dek.
Sy sê sy is ’n spesiale dank aan haar familie verskuldig, wat uit hul pad gegaan het om die produkte wat verkoop is voor te berei. “Sonder hulle sou ek nie my doel bereik het nie. Ek sal altyd dankbaar wees vir hul ondersteuning.”


