Talle bruidspare en hul gaste, of gaste vir ander gesellighede wat by die Bloemendal-restaurant bespreek het, gaan voor dooiemansdeur opdaag.
Die Bloemendal-restaurant wat vir sowat 20 jaar op die heuwel op die Bloemendal-wynlandgoed bedryf is, het Dinsdag omstreeks 17:00 sy deure gesluit ná ‘n uitgerekte hofgeding met Spirito Trade 82, die eienaars van Bloemendal-wynlandgoed. Die restauranteienaars is 24 uur deur die balju gegee om die gebou te ontruim nadat sy laaste troefkaart misluk het.
Die Konstitusionele Hof het op 8 Februarie beslis dat die aansoek om verlof tot appél deur Tradefirm 135, wat die restaurant bedryf het, van die hand gewys word, omdat “dit nie binne die hof se jurisdiksie val nie”. Die aansoek is met koste van die hand gewys.
Besprekings vir die restaurant word tot 19 maande vooraf gedoen, en word slegs met die betaling van ‘n deposito bevestig.
Freddie Turner, mede-eienaar van Tradefirm, het sy skouers opgetrek toe TygerBurger hom gevra het na die talle besprekings, ook vir troues, wat nou deur die mat val.
“Ek het R30 miljoen verloor en is bankrot. Dis dan nou maar ook hulle verlies,” het hy gesê.
Die hofsaak sleep al sedert ongeveer 2014 voort nadat Spirito Trade 82, eienaars van die plaas waarop die restaurant geleë is, aansoek by die Bellvillese siviele hof gedoen om ’n uitsettingsbevel nadat die restaurant onder meer versuim het om agterstallige huurgeld te betaal.
Die eerste uitklophou vir Tradefirm was reeds in Mei verlede jaar toe hy onsuksesvol was met sy aansoek om appél teen ‘n uitsettingsbevel.
In sy uitspraak op 3 Mei het regter André Blignaut die uitsetting van Tradefirm vanuit die restaurantperseel gelas. Hierdie bevel sou op 31 Julie verlede jaar in werking tree met dien verstande dat Tradefirm die bepalings van die bestaande huurkontrak nakom, wat onder meer die betaling van huurgeld van R30 000 per maand ingesluit het.
Tradefirm se aansoek om verlof tot appèl in die hooggeregshof is geweier, asook dié by die appèlhof, waarop Tradefirm toe aansoek gedoen het om verlof tot appèl by die Konstitusionele Hof.
Christiaan Tickner het namens Spirito Trade gesê daar is planne om die restaurantgebou te herontwikkel.